Nuus 08:00
BULLETIN 23 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die oorhandiging van die G20-presidentskap sal waarskynlik later plaasvind
# Amptenare uit die VSA, Europese Unie en Oekraïne ontmoet vandag oor die VSA-vredesplan vir Oekraïne
# En rugby, Suid-Afrika klop Ierland vir die eerste keer sedert 2012 in Dublin
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die oorhandiging van die G20-presidentskap aan die Verenigde State sal waarskynlik later by sy kantore in Pretoria op die toepaslike vlak plaasvind. Dit volg nadat Washington aangedui het dat hulle slegs ‘n chargé d’affaires na die afsluitingseremonie sal stuur. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê hulle sal nie toelaat dat die president die G20-presidentskap aan ‘n junior amptenaar oorhandig nie:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika se G20-presidentskap het die herlewing van die Vennootskap met Afrika ‘n sentrale prioriteit gemaak. Hy het gister tydens die G20-leiersberaad in Johannesburg ‘n hoëvlak-vergadering gelei oor ekonomiese groei en werksgeleenthede in Afrika. Die vennootskap is daarop gemik om beleggings te verbeter, werk te skep en volhoubare voorspoed te verseker deur sterker vennootskappe. Mashatile sê sedert die sluiting van die vennootskap tydens Duitsland se G20-presidentskap in 2017, is bestendige vordering gemaak:
# Die korrupsieverhoor van die voormalige speaker van die nasionale vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, is vasgestel vir 20 Julie volgende jaar in die Hooggeregshof in Pretoria. Mapisa-Nqakula word daarvan beskuldig dat sy tussen 2016 en 2019, na bewering 4,5-miljoen-rand ontvang het, insluitend 2,1-miljoen-rand in kontant van ‘n diensverskaffer tydens haar ampstermyn as minister van Verdediging. Die woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Henry Mamothame, sê haar borgtog van 50-duisend rand is verleng tot haar volgende verskyning in die hof:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het oranje en geel waarskuwings uitgereik vir donderstorms, swaar reën, hael en sterk wind vandag in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat en Mpumalanga. Inwoners word versoek om voorsorgmaatreëls te tref met oorstromings, skade aan eiendom en ontwrigting van infrastruktuur wat verwag word. Waarskuwings vir uiters hoë brandgevaar is in plek vir die Swartland, Noordwes en die Vrystaat. Gauteng en ander provinsies kan warm, gedeeltelik bewolkte toestande met enkele buie en donderbuie verwag.
# Nasionale veiligheidsraadgewers uit Frankryk, Brittanje en Duitsland ontmoet vandag amptenare van die Europese Unie, die VSA en Oekraïne in Genève om Washington se voorgestelde 28-punt-vredesplan vir Oekraïne te bespreek. Die vergadering is in reaksie op president Donald Trump se eis dat Oekraïne sy vredesplan met Rusland teen Donderdag moet aanvaar. Reuters haal ‘n Amerikaanse amptenaar aan wat sê die Amerikaanse minister vir die weermag, Daniel Driscoll, het reeds in Genève aangekom. ‘n Europese konsep-vredesplan geskoei op die Amerikaanse voorstel, is aan Oekraïne en die Amerikaanse administrasie gestuur.
# Suid-Afrika het vir die eerste keer sedert 2012 ‘n oorwinning in Dublin behaal en gisteraand in ‘n Herfsnasiereeks-toets ‘n swak gedissiplineerde Ierse span met 24-13 geklop. Die tuisspan het op een stadium net 12 spelers op die veld gehad. Die Springbokke se oorwinning is verseker na drieë deur Damian Willemse, Cobus Reinach en Sacha Feinberg-Mngomezulu, asook ‘n strafdrie. Die Bokke was rustyd met 19-7 voor. Die Iere het egter ‘n faktor gebly, spyte van James Ryan se 20-minuut rooi kaart en Sam Prendergast, Jack Crowley, Andrew Porter en Paddy McCarthy wat ook moes gaan afkoel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….