Nuus 09:00
BULLETIN 22 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Globale Fondsberaad is ‘n mylpaal vir wêreldwye gesondheid
# Eskom sê die kragstelsel se bestendigheid verbeter namate opwekkingsherstel momentum kry
# En regters keer Donald Trump om toelaes aan Amerikaanse stede en provinsies te sny
# President Cyril Ramaphosa sê die agtste Globale Fonds Aanvullingsberaad kom op ‘n kritieke tydstip met multilateralisme wat verswak en wêreldwye gesondheidsamewerking getoets word. Ramaphosa het tydens die G20-leiersberaad in Nasrec, Johannesburg, die behoefte aan veerkragtige gesondheidstelsels beklemtoon, insluitend uitgebreide plaaslike vervaardiging van medisyne. Hy het belegging in gesondheid aangemoedig om ware gesondheidsgelykheid te bereik:
# Ramaphosa het ook aangekondig Suid-Afrika bewillig 630-miljoen-rand om wêreldwye pogings te ondersteun om MIV, TB en malaria te beëindig. Ramaphosa het tydens die Globale Fonds Aanvullingsberaad gesê die verbintenis weerspieël ‘n gedeelde plig om universele gesondheidsdekking en veerkragtige gesondheidstelsels te bou. Ramaphosa het vennote bedank vir vroeë beloftes van byna 74-miljard-rand. Hy sê Suid-Afrika se bydrae sluit ondersteuning in van Goodbye Malaria en Anglo American:
En die wêreldbekende ekonoom, professor Jeffrey Sachs, het president Donald Trump skerp gekritiseer en sy G20-beraadboikot vergelyk met die woedebui van ‘n vierjarige. Sachs het tydens UNISA se 2025-stigterslesing Trump se afkeur gekoppel aan Westerse oorheersing wat vervaag en Suid-Afrika se globale geregtigheidshouding geprys. Dit volg nadat president Ramaphosa ‘n Amerikaanse versoek van die hand gewys het dat die chargé d’affaires Marc Dillard slegs die beraad se afsluitingseremonie bywoon.
# Eskom sê die nasionale kragstelsel bly bestendig, gedryf deur volgehoue verbeterings deur die Generasie Herstelplan. Die woordvoerder Daphne Mokoena sê die Energie Beskikbaarheidsfaktor het die maand tot 70,06-persent gestyg, teenoor 63,02-persent verlede jaar, wat die energiesekerheid en netwerkbestendigheid versterk. Sy sê die verminderde afhanklikheid van diesel verskaf oortollige vermoë, met geen beurtkrag wat hierdie somer verwag word nie:
# Twee federale regters het gister afsonderlik president Donald Trump se administrasie geblokkeer om nuwe voorwaardes te bepaal vir toelaes van ses-miljard-rand van die Departement van Binnelandse Veiligheid aan stede, insluitend San Francisco, Los Angeles en New York. ‘n Amerikaanse distriksregter het dit in San José gelas, en ‘n distriksregter in Chicago het dieselfde gedoen rakende toelaes aan Boston en verskeie ander stede. Beide regters het gesê die Trump-administrasie het waarskynlik die wet oortree toe hy veiligheidsbefondsing aan plaaslike regerings afgesny het, tensy hulle diversiteits-, billikheids- en insluitingsprogramme staak.
# En rugby: Die Ierse haker Dan Sheehan glo vandag se toets teen die Springbokke in Dublin sal die tuisspan ‘n goeie kans bied om die vlak van hulle spelpeil te meet. Ierland het dié maand se toetsgleuf afgeskop met ‘n nederlaag teen die All Blacks, ‘n oorwinning oor Japan en ‘n weghol-sege oor die Wallabies. Sheehan sê hulle gaan ‘n aanvallende benadering hê, maar moet fokus op hulle wedstrydplan en nie wag en kyk waarmee die wêreldkampioen na vore kom nie. Afskop op die Aviva-stadion is vanaand 7.40.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….