Nuus 16:00
BULLETIN 21 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vroue in Suid-Afrika lê 15-minute stil met geslagsgeweld wat amptelik as ‘n nasionale ramp geklassifiseer word
# AfriForum stel ‘n veiligheidsgids bekend vir besoekers voor die G20-beraad
# En rugby: ‘n Ervare Blitsbok-groep is aangewys vir die seisoen se eerste toernooi in Dubai
# Vroue in Suid-Afrika het vandag 15-minute stil gelê om die 15 vroue te vereer wat daagliks in die land vermoor word. Die veldtog is gelei deur Women for Change en het deel gevorm van ‘n nasionale stilstand wat dringende optrede teen geslagsgeweld en vrouemoord eis. Die veltog is gehou tydens die G20-leiersberaad in Johannesburg, om wêreldwye aandag op die krisis te vestig. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het vandag geslagsgeweld en vrouemoord amptelik as ‘n nasionale ramp geklassifiseer.
AfriForum se Gemeenskapsveiligheids-afdeling het intussen ‘n omvattende veiligheidsgids bekend gestel vir besoekers, joernaliste en afgevaardigdes wat die G20-leiersberaad in Suid-Afrika bywoon. Die gids – Om veilig te bly in Suid-Afrika – rus buitelandse besoekers toe met praktiese raad om Suid-Afrika se unieke misdadige omgewing vry te spring. AfriForum sê internasionale besoekers onderskat dikwels die vlak van geweld en opportunistiese misdaad in die land, wat hulle baie weerloos laat. Woordvoerder Jacques Broodryk sê hulle doel is nie om besoekers af te skrik nie, maar om hulle te bemagtig.
Die president van die Europese Raad, António Costa, het Afrika intussen as ‘n strategiese vennoot bevestig en Suid-Afrika se G20-leierskap geprys. Costa het in Sandton, Johannesburg, die EU se verbintenis tot multilaterale samewerking beklemtoon om globale uitdagings aan te pak, insluitend skuldverligting, klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling. Costa het die unie se pogings uitgelig om Afrika se groei te ondersteun, kritieke mineraalvoorsieningskettings uit te brei en vennootskappe te versterk. Hy het president Cyril Ramaphosa geprys vir die bevordering van solidariteit, gelykheid en multilateralisme:
# Die regering het die besluit van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee verwelkom om die terugkoopkoers met 25 basispunte te verlaag tot 6,75-persent. Handelsbanke se prima-uitleenkoers is nou 10,25-persent. Die regering se waarnemende woordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die verlaging sal na verwagting druk verminder op verbruikers met skuld, klein ondernemings steun en belegging en ekonomiese bedrywighede aanwakker:
# Rugby: Elf spelers wat betrokke was in die Sewes-wêreldkampioenskaps-oorwinning in Los Angeles in Mei is ingesluit in die Springbok-sewes se groep vir volgende naweek se eerste toernooi van die nuwe seisoen in Dubai. Die Blitsbok-afrigter Philip Snyman het ook die ervare Christie Grobbelaar en Donavan Don gekies. Impi Visser neem die kapteinskap oor by Selvyn Davids, wat saam met Zain Davids die onderkapteinskap sal deel. Snyman sê dit was moeilik om op die finale groep te besluit, want daar was kwaai mededinging in die voorseisoen vir die beskikbare spanplekke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-937-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-46-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….