Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die paaltjies bly kantel in Perth. ‘n Onspeelbare Mitchell Starc het sewe paaltjies vir 58 lopies geneem toe Australië Engeland vir net 172 uitgeboender het op die eerste dag van die eerste toets om die As. Engeland se kaptein, Ben Stokes, het die loot gewen op ‘n volgepakte Perth-stadion en besluit om te kolf, maar die besoekers het nie antwoorde gehad vir Starc se aanslag nie. Harry Brook se 52 en Ollie Pope se 46 was die enigste noemenswaardige tellings toe Engeland se laaste paaltjie kort na middagete getuimel het. Australië sukkel ook en het kort voor uitskeityd gesteier op 121 vir nege nadat Stokes vyf paaltjies geneem het.
Indië se kaptein, Shubman Gill, moes intussen onttrek aan die tweede toets teen Suid-Afrika wat môre in Guwahati begin. Hy het sy nek beseer in die eerste toets in Kolkata, wat die Proteas met 30 lopies gewen het. Mediese personeel het gewaarsku die besering kan vererger indien hy sou speel. Rishabh Pant sal nou die gashere aanvoer, met die top-orde kolwer Sai Sudharsan wat na verwagting Gill se plek sal inneem. Spel begin reeds soggens 5:30, Suid-Afrikaanse tyd, as gevolg van vroeë sonsondergange in die oostelike stad.
# Rugby: Die Springbok-slot Lood de Jager het sy appèl teen ‘n skorsing van vier wedstryde verloor. Hy het vroeër die maand in die oorwinning oor Frankryk ʼn rooikaart ontvang vir ʼn gevaarlike duikslag op Thomas Ramos. De Jager het voor ʼn onafhanklike appèlkomitee aangevoer ʼn rooikaart is nie geregverdig nie omdat daar versagtende omstandighede was, onder meer Ramos se korter lengte. Nadat verdere voorleggings oorweeg is, het die paneel die besluit gehandhaaf dat ʼn rooikaart en die gevolglike straf geregverdig.
Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, het intussen ingrypende veranderinge aan sy span aangebring vir môre se toets teen Wallis in Cardiff. Dit volg na hul vernederende loesing teen Engeland verlede naweek. Slegs twee spelers bly oor van verlede week se opdrafspan – kaptein en slot Scott Barrett en die steelkantflank Simon Parker. Nieu-Seeland het laas in 1953 teen Wallis verloor, maar Robertson sê hulle onderskat nie die teenstanders nie. Wallis se naelskraapse oorwinning oor Japan verlede naweek was hulle eerste tuisoorwinning in meer as twee jaar.
# En tennis: ‘n Wêreldwye spelersvoorspraakgroep, met Novak Djokovic as medestigter, is na aan ‘n skikking met Tennis Australië in ‘n saak wat beheerliggame beskuldig dat hulle spelers te min betaal en ‘n onvolhoubare skedule oplê. Die groep het in Maart ‘n groepsgeding aanhangig gemaak wat die ATP, WTA, Internasionale Tennisfederasie en Internasionale Tennis-integriteitsagentskap beskuldig dat hulle nie-mededingende gebruike volg en spelers se welstand ignoreer. Die organiseerders van die vier Grand Slam-toernooie is in September bygevoeg. Indien die skikking goedgekeur word, sal Tennis Australië aan die saak onttrek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….