Nuus 09:00
BULLETIN 21 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile en Emmanuel Macron bring hulde aan Franse anti-apartheidsaktiviste
# Cosatu verwelkom die repokoersverlaging as ‘n broodnodige verligting vir werkers
# En die VN sê die burgerlike sterftes in Oekraïne het reeds verlede jaar se dodetal oortref
# Adjunk-president Paul Mashatile ontvang vandag die Franse president Emmanuel Macron om Franse burgers wat ‘n rol in die stryd teen apartheid gespeel het, te gedenk. Macron word later vandag in die land verwag om die G20-leiersberaad by te woon. Die twee sal deel wees van ‘n kransleggingseremonie by die Vryheidspark Gedenkterrein en museum in Pretoria. Die presidensie sê die seremonie volg na Mashatile se onlangse suksesvolle besoek aan Frankryk waar die geskiedkundige goeie samewerking tussen die twee lande versterk is.
# Die vakbond Cosatu het die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om noodsaaklike verligting vir werkers en die ekonomie te bring, verwelkom. Die bank se beleidskomitee van geldsake het besluit om die terugkoopkoers met 25 basispunte te verlaag tot 6,75-persent. Die woordvoerder van Cosatu, Matthew Parks, sê met inflasie wat bestendig daal en tans 3,6-persent is, is daar nog ruimte vir verligting vir die bevolking in die nuwe jaar:
# Die vakbondfederasie Saftu het ook kommentaar gelewer en gesê hy is nie verras deur wat hy die beskeie uitleenkoersverlaging van 25 basispunte tot 6,75-persent noem nie. Die verlaging kom te midde van positiewe ekonomiese sentiment wat gesteun word deur beter inkomste vir die Tesourie en ‘n S&P Global-opgradering. Saftu-woordvoerder Asive Dyani sê daar is geen rede waarom Suid-Afrika nie rentekoerse drasties kan verlaag nie, gesien in die lig van dalende inflasie, trae beleggings, dalende reële inkomste en ʼn humanitêre krisis in werkersklasgemeenskappe:
# Die Verenigde Nasies se Departement van Politieke en Vredesaangeleenthede waarsku dat Rusland se gebruik van langafstandwapens Oekraïne aan meer gevaar blootstel. ʼn Geraamde 14-duisend-534 burgerlikes, insluitend 745 kinders, is dood sedert die oorlog uitgebreek het. Sowat 3,7-miljoen Oekraïners is ontheem en byna ses-miljoen is vlugtelinge. Die departement se Europese direkteur, Kayoto Gotoh, sê die burgerlike sterftes in Oekraine het vanjaar reeds 2024 se totaal verbygesteek:
# Krieket: Die Indiese kaptein, Shubman Gill sal slegs in die tweede toets teen Suid-Afrika speel mits hy 100-persent fiks is. Hy het vroeg in die eerste toets in Kolkata ‘n nekbesering opgedoen, in die wedstryd wat die Proteas met 30 lopies gewen het. Gill het sy spanmaats na Guwahati vergesel, waar die laaste wedstryd môre begin, maar sal blykbaar nie speel nie omdat dit die besering kan vererger. Die Proteas mik na hul eerste reeksoorwinning in Indië in 25 jaar nadat hulle vir die eerste keer sedert 2010 ‘n toetsoorwinning in die land behaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-584-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-59-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….