Nuus 08:00
BULLETIN 21 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Europese Raad ondersteun Suid-Afrika se G20-prioriteite
# Die EFF is bekommerd oor die gebrek aan hulpbronne vir die Parlement se ad hoc-komitee
# En rugby: Lood de Jager se appèl teen sy rooikaart en skorsing is van die hand gewys
# Die president van die Europese Unie, António Costa, sê die G20-leiersberaad is ‘n geleentheid om rondom ʼn tafel te sit en nuwe voorstelle te bring om die wêreld se probleme op te los. Hy het gister in Johannesburg tydens ʼn nuuskonferensie gepraat na ʼn driesydige vergadering met president Cyril Ramaphosa en die Europese Kommissie se president Ursula von der Leyen. Costa sê die EU se vennootskap met Suid-Afrika is gegrond op wedersydse respek en ʼn toewyding aan demokrasie, multi-lateralisme, en ʼn regverdiger, meer volhoubare wêreld:
# Die EFF versoek die Parlement om meer hulpbronne beskikbaar te stel aan die ad hoc-komitee wat polisiekorrupsie ondersoek. Die party waarsku dat die komitee sonder behoorlike befondsing kan sukkel om gehalte werk te lewer oor sake wat nasionale veiligheid raak. Leigh-Ann Mathys van die EFF doen ‘n beroep op die Parlement om dringend die nodige fondse te verskaf om te verseker dat die ondersoek na beweerde sameswering tussen politici, polisie en misdadigers doeltreffend kan voortgaan:
# Die Parlementêre portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur bly bekommerd oor die munisipaliteit van George se onwilligheid om die redes bekend te maak vir die ineenstorting van ‘n gebou in Mei verlede jaar. Vier-en-dertig konstruksiewerkers is dood in die voorval. Die komitee en munisipale amptenare het gister vergader om vas te stel watter stappe gedoen is om skuldiges te laat boet. Die voorsitter van die komitee, Carol Phiri, sê die munisipaliteit bly agter regsprosesse skuil en weier om die Ingenieursraad van Suid-Afrika se verslag oor die ineenstorting bekend te maak.
# Die Verenigde Koninkryk se reaksie op die Covid-19-pandemie kan opgesom word as te min, te laat. Dit is volgens ʼn onafhanklike verslag oor die regering se hantering van die pandemie. Die verslag voer aan lewens kon in die eerste vlaag van die pandemie gered word indien die verpligte inperking ʼn week vroeër ingestel is. Die ondersoek se voorsitter, Baroness Hallett, sê daar was tydens die pandemie ʼn giftige en chaotiese kultuur in die VK-regering:
# Rugby: Springbok-slot Lood de Jager het sy appèl teen ʼn skorsing van vier wedstryde verloor. Hy het vroeër die maand in die oorwinning teen Frankryk ʼn rooikaart ontvang vir ʼn gevaarlike duikslag op Thomas Ramos. De Jager het voor ʼn onafhanklike appèlkomitee verskyn en aangevoer ʼn rooikaart is nie geregverdig nie omdat daar versagtende omstandighede was, onder meer Ramos se korter lengte. Die komitee sê nadat verdere voorleggings oorweeg is, het die paneel die besluit dat ʼn rooikaart en die gevolglike straf geregverdig is, gehandhaaf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vierduisend-52-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….