Nuus 06:00
BULLETIN 21 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA gaan die G20-leiersberaad bywoon
# Lesetja Kganyago waarsku dat die sterk rand dalk tydelik is
# En rugby: ‘n Nuwe All Black-span is saamgestel vir die kragmeting in Cardiff
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika het ‘n kennisgewing van die Verenigde State ontvang dat hulle van plan verander het oor die bywoning van die G20-leiersberaad in Johannesburg hierdie naweek. Die Amerikaanse president Donald Trump se administrasie het gesê dat hulle nie die beraad sou bywoon nie, en beweer dat daar ‘n wit volksmoord is wat Afrikanerboere in Suid-Afrika teiken. Ramaphosa sê besprekings duur voort oor hoe hulle die beste aan die beraad kan deelneem:
Die Australiese premier, Anthony Albanese, sê intussen die G20-leiersberaad is ‘n belangrike byeenkoms vir die vereniging van die lande wat die wêreld se ekonomieë dryf. Hy het gister in Suid-Afrika aangekom. Albanese is die eerste Australiese premier wat die land sedert 2013 besoek. Hy sê in ‘n tyd van wêreldwye onsekerheid moet Australië met sy internasionale vennote saamwerk om die gedeelde uitdagings en geleenthede wat voorlê, aan te pak:
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku die rand se onlangse versterking kan tydelik wees en beklemtoon die behoefte aan voortgesette strukturele hervormings om prysbestendigheid te handhaaf. Kganyago sê die vordering, soos die land se kredietopgradering en uittrede uit die Finansiële Aksietaakmag se gryslys is bemoedigend, maar verdere hervormings is noodsaaklik om ekonomiese groei te ondersteun, skuld volhoubaar te bestuur, en te verseker dat inflasie oor die mediumtermyn naby die drie-persent-teiken bly:
# Die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Andy Mothibi, sê sommige amptenare wat by die Tembisa-hospitaal-korrupsieskandaal betrek is, het die gesteelde geld vrywillig terugbetaal. ‘n Tussentydse SOE-verslag wat in September vrygestel is, het onthul drie gekoördineerde sindikate het meer as twee-miljard-rand geplunder. Amptenare van die Gautengse Departement van Gesondheid en Tembisa-hospitaal het na bewering geld ontvang vir die onreëlmatige aanstelling van diensverskaffers. Mothibi het aan News24 gesê hy is bly om te sien die verslag het die verlangde uitwerking.
# Nigeriese owerhede het skole in vyf distrikte in die sentrale Kwara-staat gesluit uit vrees dat hulle teikens van gewapende bendes kan word, na ‘n dodelike aanval op ‘n kerk vroeër die week. Gewapende mans het die kerk aangeval, ten minste twee mense vermoor en die pastoor en sommige aanbidders ontvoer. Nigerië het onlangs ‘n vlaag aanvalle deur gewapende mans ervaar, insluitend die ontvoering van 25 skoolmeisies uit ‘n kosskool in Kebbi. Die land word deur die Amerikaanse president Donald Trump dop gehou, wat vroeër met militêre optrede gedreig het oor die behandeling van Christene in die land.
# Rugby: Die All Black-afrigter, Scott Robertson het ingrypende veranderinge aan sy span aangebring vir môre se toets teen Wallis in Cardiff. Dit volg na hul vernederende loesing deur Engeland verlede week. Slegs twee spelers uit verlede week se beginspan is weer gekies, die kaptein en slot Scott Barrett, en die steelkantflank Simon Parker. Nieu-Seeland het laas in 1953 teen Wallis verloor, maar Robertson sê hulle onderskat nie die opposisie nie. Wallis se oorwinning met ‘n enkele punt oor Japan verlede naweek was hulle eerste tuisoorwinning in meer as twee jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-162-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-81-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….