Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Direkteur van PetroSA, Leon Haywood, bedank te midde van bespiegeling in die bedryf
# TLU SA erken die posisie wat regoor die wêreld vir boere ingeneem word
# En, rugby: Joe Schmidt word aangewys as die nuwe Wallabies-hoofafrigter
# ‘n Direkteur van PetroSA, Leon Haywood, het uit die staatsbeheerde onderneming bedank. Die enigste raadslid met kundigheid in die olie- en gassektor het persoonlike redes vir sy vertrek aangevoer. Dit volg te midde van berigte oor PetroSA se moontlike ooreenkoms met die Russiese bank Gazprombank. PetroSA het die bank verlede maand aangekondig as sy gekose vennoot vir die herlewing van die Mosselbaaise gas-tot-vloeistof-raffinadery. News24 berig Haywood se bedanking voeg intrige by tot die onderneming se toekomstige leierskap, terwyl die Gazprombank-transaksie vrae laat ontstaan oor PetroSA se strategiese rigting.
# TLU SA sê hy erken die posisie wat regoor die wêreld ingeneem word ter ondersteuning van voedselproduserende boere. Die afgelope week het rye trekkers paaie in Duitsland versper, wat chaos in stede en ‘n kopseer vir pendelaars veroorsaak het. Volgens die landbouliggaam het elke land sy eie uitdagings wat baie boere verhinder om volhoubaar te boer. ʼn Woordvoerder van TLU SA, Bennie van Zyl, sê boere in Suid-Afrika het te doen met ʼn tekort aan elektrisiteit, onderbenutte hawens en verwaarloosde paaie wat hulle verhinder om produkte aan verbruikers te lewer:
# Die Transformation Alliance versoek alle ouers en Suid-Afrikaners om al die nodige ondersteuning te verleen aan leerders wat nie hulle 2023-matriekeksamen geslaag het nie. Die klas van 2023 het ʼn slaagsyfer van 82,9-persent behaal, teenoor die 80,1-persent van 2022, met die Vrystaat steeds landwyd in die eerste plek, met ʼn slaagsyfer van 89,03-persent. Die woordvoerder van die alliansie, Tsakane Manganyi, het leerders gelukgewens:
# Kleinhandelverkope in die Verenigde Koninkryk het die grootste daling getoon sedert Januarie 2021 toe Brittanje die Covid-inperking beleef het, en inkopiegangers vir Kersfees die gordel styf moes intrek midde-in ʼn lewenskoste-krisis. Verkope per volume het volgens berigte in Desember met 3,2-persent teruggesak, nadat dit in November met 1,4-persent gestyg het, danksy Swart Vrydag-afslag. Die Britse Kantoor vir Nasionale Statistieke sê dit is veel erger as die verwagte afname van 0,5-persent vir verlede maand. Data toon die ekonomiese vooruitsig is baie donker, na die verrassende styging in inflasie in Desember terwyl voortslepende stakings Brittanje waarskynlik in ʼn resessie gaan indwing.
# Rugby: Die All Blacks se gewese aanvals-afrigter, Joe Schmidt, is aangestel as nuwe hoofafrigter van die Wallabies. Die Nieu-Seelander se kontrak verstryk na volgende jaar se toer van die Britse en Ierse Leeus. Schmidt volg Eddie Jones op, wat bedank het kort nadat Australië die eerste keer in die groepsfase van die Wêreldbekertoernooi uitgeskakel is. Hy is later aangewys as hoofbreier van Japan. Schmidt het Ierland van 2013 tot 2019 afgerig. Hy sê hy is gretig om die Wallabies te help bou aan die pad vorentoe na ‘n moeilike tydperk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-345-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….