Nuus 08:00
BULLETIN 20 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA waarsku Suid-Afrika oor die uitreiking van ‘n G20-verklaring
# Minister Creecy sê tydelike vlugbeperkings sal tydens die Leiersberaad geld
# En tennis: Italië is deur na sy vierde agtereenvolgende Davisbeker-halfeindstryd
# Die Verenigde State het aan die Suid-Afrikaanse regering geskryf en hom gewaarsku om nie ‘n G20-verklaring uit te reik sonder dié land se teenwoordigheid by die naweek se leiersberaad in Johannesburg nie. Amerika boikot die beraad en sê hy sal enige uitkoms wat as ʼn G20-konsensusposisie voorgehou word, blok omdat Suid-Afrika se prioriteite teen dié van Amerika se beleidsmenings indruis. Suid-Afrika se G20 Sous-Sherpa, ambassadeur Xolisa Mabhongo, het aan die SABC gesê dis vir Suid-Afrika belangrik om ʼn verklaring te verseker:
Plaaslik word moeite gedoen om die beraad flink te laat verloop. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê tydelike lugbeperkings sal Saterdag en Sondag tydens die G20-leiersberaad geld om seker te maak daar is geen ontwrigting by kommersiële vlugte nie. In samewerking met die Suid-Afrikaane Lughawens Maatskappy en Lugverkeer en Navigasiedienste sal gesorg word vir ‘n omvattende gereedheidsproses om lugverkeersvloei sonder probleme te verseker. Volgens Creecy is stelsels by lughawens landwyd hersien, waardeer en versterk vir operasionele veerkragtigheid:
# Saai waarsku dat Suid-Afrika se regulerende liggaam het vir meer as ‘n dekade misluk, met registrasievertragings van meer as ses jaar, wat noodsaaklike kunsmis, oplossingsmiddels en entstowwe blokkeer. Francois Rossouw van die organisasie sê dit bedreig boere se voortbestaan, dieregesondheid en voedselsekerheid. Rossouw sê Saai eis ‘n volledige verslag oor vorige hervormings, ‘n tydgebonde plan om agterstande uit te wis, en onmiddellike stappe om die stelsel te stabiliseer en te moderniseer:
# Amerika en Rusland het volgens berigte ʼn nuwe 28-punt-vredesplan opgestel wat groot toegewings van Oekraïne sal vra. Volgens ʼn Axios-verslag sal Oekraïne terrein wat hy in die ooste van die land beheer, moet afstaan en sy weermag halveer. President Volodymyr Zelensky het in die verlede egter geweier om hierdie voorwaardes te aanvaar. Amerika se minister van Verdediging, Dan Driscoll, ontmoet Zelensky na verwagting vandag om pogings te bespreek om die oorlog te beëindig.
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioene van Italië is deur na hul vierde agtereenvolgende halfeindronde by die Davisbeker-jaareindtoernooi nadat hulle Oostenryk in Bologna geklop het. Matteo Berrettini het Italië ʼn voorsprong gegee toe hy die 177ste gekeurde Jurij Rodionov verslaan het. Flavio Cobolli het sy landgenoot nagevolg en met Oostenryk se nommer een, Filip Misolic, afgereken. Italië, wat die eerste nasie wil word wat drie agtereenvolgende titels in 53 jaar wen, kom Vrydag in die halfeindronde teen België te staan. Vandag takel Argentinië en Duitsland, en Spanje en die Tsjeggiese Republiek mekaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-378-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-74-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….