Nuus 15:00
BULLETIN 19 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jaarlikse verbruikersinflasie het in Oktober tot 3,6-persent gestyg
# Krieket: Onsekerheid heers oor die Indiese kaptein Shubman Gill se fiksheid vir die tweede toets teen die Proteas
# En ‘n meesterstruk van Gustav Klint bereik ‘n rekordbedrog vir ‘n Sotheby’s-veiling
# Statistieke Suid-Afrika sê inflasie het die tweede agtereenvolgende maand gestyg en in Oktober 3,6-persent bereik, die hoogste in langer as ‘n jaar. Voedselinflasie het gedaal tot 3,9-persent, met stadiger stygings in die prys van groente, vrugte, drankies, suiker en vleis, hoewel sekere basiese goedere soos graankosse, vis, olie en suiwelprodukte duurder geword het. Statistieke SA se woordvoerder, Ricado Johnson, sê Noordwes het die hoogste inflasie van al die provinsies getoon teen 4,3-persent, terwyl die Oos-Kaap die laagste was teen 3,1-persent:
# ‘n Nuwe verslag deur AfriForum beweer diskriminerende staatsbeleide en toenemende intimidasie teen minderhede het hierdie jaar in Suid-Afrika vererger. Die burgerregte-organisasie beweer Afrikaners en ander minderhede het uitsluiting, eiendomsaanvalle en dreigemente ondervind, terwyl kritici van die regering geteiken word. Ernst van Zyl van AfriForum sê hulle sal die verslag met G20-ambassades en op die Verenigde Nasies se Forum oor Minderheidskwessies deel:
ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê intussen dis oneerlike ontkenning om regstelling te verwerp. Hy het uitgevaar teen Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, en hom beskuldig dat hy ‘n kwaadwillige en verraderlike agenda teen hervorming bevorder. Mashaba voer aan regstelling wat gewortel is in die strukturele ongeregtighede van apartheid is grondwetlik noodsaaklik. Hy dring aan Suid-Afrika benodig steeds doeltreffende, nie-rassige bemagtigingsbeleide al verwerp hy die ANC se elite-gedrewe swart ekonomiese bemagtigingsmodel. Mashaba vra ‘n model wat fokus op werklike geleenthede, die vermindering van armoede en vaardigheidsontwikkeling.
# Krieket: Indië se kaptein, Shubman Gill, het saam met sy span na Guwahati gereis, maar dis nog nie seker of hy fiks sal wees vir die tweede toets teen Suid-Afrika wat Saterdag begin nie. Hy het ‘n nekbesering opgedoen vroeg in die eerste ontmoeting in Kolkata, wat die Proteas met 30 lopies gewen het. Gill reageer glo goed op behandeling na ‘n dag in die hospitaal. ‘n Besluit oor sy deelname sal later geneem word. Onderkaptein Rishabh Pant sal Indië aanvoer as Gill nie kan speel nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-554-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-114-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-76-sent per vat.
# En laastens: Die meesterstuk van die Oostenrykse kunstenaar Gustav Klimt, Portret van Elisabeth Lederer, het die waardevolste moderne kunswerk ooit geword wat deur Sotheby’s verkoop is, teen ‘n reusebedrag van 4,06-miljard-rand. Die kunswerk uit die vroeë 20ste eeu het ‘n bodstryd van 19-minute ontketen in New York. Die skildery van 1,8-meter hoog is van die dogter van een van Wenen se rykste families in ‘n Chinees-geïnspireerde uitrusting voor ‘n blou tapisserie met Asiaties-geïnspireerde motiewe. ‘n Telefoniese bieër het die bod gewen na ‘n stryd in stappe van 80-miljoen-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….