Nuus 13:00
BULLETIN 19 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Patrice Motsepe waarsku die misdaadbeeld benadeel Suid-Afrika se beleggingsaantrekkingskrag
# Korrektiewe Dienste sê die berugte moordenaar en verkragter Moyhdian Pangkaeker is dood
# En krieket: Ngidi bied dekking vir Rabada voor die tweede toets teen Indië
# Die mynmagnaat Patrice Motsepe sê Suid-Afrika moet dringend iets aan sy misdaadbeeld doen om groter beleggings te lok. Hy het op die Bloomberg Afrika-sakeberaad in Johannesburg gepraat. Motsepe sê Suid-Afrika het enorme potensiaal met wêreldklas-ondernemings en -leierskap, maar veiligheidskwessies skrik beleggers af. Hy sê bestuurders wêreldwyd het gevra of hul gesinne veilig sou wees in Suid-Afrika, en hy waarsku die land se slegte naam kan sy ekonomiese ambisies bedreig:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het die dood bevestig van die moordenaar en verkragter Moyhdian Pangkaeker in die Brandvlei-maksimum-gevangenis in Worcester in die Wes-Kaap. Hy is in 2023 skuldig bevind aan die ontvoering, verkragting en moord op die agtjarige Tazné van Wyk in 2020. Singabakho Nxumalo van die Departement sê Pangkaeker het ‘n lewenslange vonnis uitgedien vir verskeie oortredings, insluitend moord, verkragting en aanranding:
# Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, sal na verwagting opsystaan van sy ANC-pligte. Dit volg nadat hy aangekla is van korrupsie in verband met Transnet se lokomotief-transaksie van 54-miljard-rand. Gigaba het gister in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng, verskyn as vyfde beskuldigde in die staatskapingsaak. Hy hou vol hy is onskuldig, maar die ANC sê hy moet voldoen aan die opsystaan-reël. Die saak is uitgestel tot 30 Januarie vir die bekendmaking van die dossier en om ‘n datum te bepaal vir oorplasing na die Hooggeregshof.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Brand in ‘n suidelike Japannese kusstad het meer as 170 geboue verwoes en een persoon het gesterf. Bemannings van militêre en brandbestrydingshelikopters het geskarrel om die grootste stedelike brand in byna ‘n halfeeu in die land te blus. Lug-beeldmateriaal wys huise wat in puin lê en dik rookwolke oor die heuwelagtige Saganoseki-distrik van Oita-stad. ‘n Gebied wat ongeveer so groot soos sewe sokkervelde is, is heeltemal verwoes en 175 inwoners moes ontruim word en is tydelike skuiling gebied.
# Krieket: Die snelbouler Lungi Ngidi is ingesluit in Suid-Afrika se groep vir die tweede toets teen Indië, wat Saterdag in Guwahati begin. Die 30-jarige speler dien as dekking vir Kagiso Rabada, wat die eerste toets in Kolkata misgeloop het nadat hy ‘n rib-besering opgedoen het tydens oefening. Suid-Afrika het die wedstryd met 30 lopies gewen. Ngidi het nog slegs een toets in Indië gespeel. Intussen sukkel Marco Jansen en Simon Harmer ook met beserings wat hulle uit die tweede toets kan hou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-116-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-90-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….