Nuus 12:00
BULLETIN 19 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malusi Gigaba sal na verwagting opsystaan ná korrupsie-aanklagte
# Nog drie sluise van die Vaaldam word oopgemaak om wateruitvloei te verhoog
# En rugby: Mostert se rooikaart teen Italië word na geel afgradeer
# Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, sal na verwagting opsystaan van sy ANC-pligte. Dit volg nadat hy aangekla is van korrupsie in verband met Transnet se lokomotief-transaksie van 54-miljard-rand. Gigaba het gister in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng, verskyn as vyfde beskuldigde in die staatskapingsaak. Hy hou vol hy is onskuldig, maar die ANC sê hy moet voldoen aan die opsystaan-reël. Die saak is uitgestel tot 30 Januarie vir die bekendmaking van die dossier en om ‘n datum te bepaal vir oorplasing na die Hooggeregshof.
# Die Nasionale Gesamentlike Bedryfs-en Intelligensiestruktuur sê hy vertrou die veiligheid- en sekerheids-voorbereiding vir die G20-leiersberaad wat die naweek in Johannesburg plaasvind. Twee-en-veertig lande sal verteenwoordig word, met wêreldleiers soos die Franse president, Emmanuel Macron, Indië se eerste minister, Narendra Modi, en die Japannese eerste minister, Sanae Takaichi, wat dit bywoon. Die struktuur se voorsitter, Tebello Mosikili, waarsku wetteloosheid sal nie geduld word nie:
# Die Departement van Water en Sanitasie het nog drie sluise van die Vaaldam oopgemaak om die uitvloei verder te verhoog nadat vyf sluise Maandag geopen is. Dit is as gevolg van die aanhoudende reën in Gauteng en Mpumalanga. Die departement se woordvoerder, Mandla Mathebula, sê die opening van agt sluise sal die watervrystelling verhoog, en dit kan ‘n oorstroming van die rivieroewer stroomaf veroorsaak, wat infrastruktuur in laerliggende gebiede in die vloedvlakte sal raak:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika het die Saoedi-Arabiese kroonprins, Mohammed bin Salman, verdedig oor die moord op die joernalis Jamal Khashoggi. Die Amerikaans-gebaseerde joernalis en kritikus van Saoedi-Arabië se regering is in 2018 in die Saoedi-konsulaat in Istanboel, Turkye, vermoor. Volgens ‘n Amerikaanse intelligensie-verslag het die prins ʼn plan goedgekeur om Khashoggi te vang of te vermoor. Trump het tydens Bin Salman se besoek aan die Withuis uitgevaar teen ‘n joernalis wat ‘n vraag gevra het oor Khashaggi se moord:
# Rugby: Die Springbok-slot Franco Mostert se permanente rooikaart in verlede naweek se toets teen Italië is herroep, wat hom beskikbaar maak vir Saterdag se kragmeting met Ierland in Dublin. Hy is in die 12de minuut in Turyn afgestuur, wat die Bokke gedwing het om die res van die wedstryd met slegs 14 spelers te speel. Hulle het nietemin 32-14 gewen. ‘n Tugkomitee het bevind dat die wedstrydbeamptes ‘n fout gemaak het, en die rooikaart na geel afgradeer. Afrigter Rassie Erasmus kondig môre sy span aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-689-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-80-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….