Nuus 18:00
BULLETIN 18 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê die Madlanga-kommissie sal staatsinstellings versterk
# Barbara Creecy sê vroue moet die geleenthede in die spoorwegsektor aangryp
# En, die herwinningskoers van vuurwapens in Kaapstad wek kommer
# Die ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê die party ondersteun ten volle die Madlanga-kommissie as ‘n instrument om staatsinstellings te versterk en regeringshervormings te versnel. Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC het sy Integriteitskommissie opdrag gegee om getuienis voor die kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee te monitor en aanbevelings te maak in ooreenstemming met sy mandaat. Mbalula het aan die media gesê die party steun ook anti-korrupsie-agentskappe:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het vroue in die spoorwegsektor versoek om voor te berei vir groot spoorwegprojekte wat na verwagting die volgende dekade van spoorweghervorming en modernisering sal bepaal. Sy het tydens die bekendstelling van Women in Rail South Africa in Midrand beklemtoon ‘n nuwe goue era vir spoorweë gaan aanbreek, met belangrike Transnet-versoeke vir voorstelle wat teen die einde van vanjaar verwag word. Creecy het vroue aangespoor om hulself vroeg te posisioneer en waarsku diegene wat dit nie doen nie, kan toekomstige strategiese voordele verloor.
# Kaapstad het kommer uitgespreek oor die aantal vuurwapens waarop in strate beslag gelê word. Die metro se toepassingsagentskappe het verlede week minstens nege vuurwapens teruggevind, waarvan ses die afgelope naweek binne slegs 36 ure gekry is. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê vyf verdagtes tussen 15 en 24 is in Portland, Philippi-Oos en Hanoverpark vasgetrek vir die besit van onwettige vuurwapens:
# Die Kremlin sê Russiese verteenwoordigers sal nie môre deelneem aan gesprekke oor Oekraïne in Istanbul, Turkye, nie. Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, gaan deelneem in ‘n poging om onderhandelings oor die beëindiging van die oorlog te laat herleef. ‘n Turkse bron sê die Amerikaanse spesiale gesant, Steve Witkoff, sal ook deelneem. Die Kremlin se woordvoerder, Dmitri Peskov, sê president Vladimir Putin is bereid tot gesprekke met Amerika en Turkye. Hy sê Frankryk se ooreenkoms om 100 Rafale-vegvliegtuie aan Oekraïne te verskaf dra nie by tot vrede nie.
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het in samewerking met die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie die FIFA-voorkeur-afspraakskeduleringstelsel vir 2026 se Wêreldbekertoernooi bekendgestel. Die FIFA-pas bied Wêreldbeker-kaartjiehouers toegang tot voorkeur-visumonderhoude voor hulle aanland vir die toernooi, wat in Junie en Julie volgende jaar in Amerika, Kanada en Mexiko aangebied word. FIFA se president, Gianni Infantino, sê die pas sal verseker dat besoekers Amerika sonder probleme kan binnekom vir die wêreldvertoonstuk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-250-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-70-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….