Nuus 17:00
BULLETIN 18 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mary de Haas ontbloot bewerings van politieke inmenging, intimidasie, en gefabriseerde bewyse in KZN
# Die Departement van Verdediging is bekommerd oor opmerkings deur die SA-vloothoof by galageleentheid
# En, Amerika sê G20 sal van 1 Desember minder deelnemers hê
# Die menseregte-navorser en veteraan sosiale antropoloog, Mary de Haas, het by die parlement se ad hoc-komitee gesê polisiebeamptes in KwaZulu-Natal het wydverspreide intimidasie in die gesig gestaar, terwyl die polities gefasiliteerde taakspan na bewering onwettige optrede aangepak en bewyse gefabriseer het. Haar ondersoeke en briewe is as sleutelredes vir die ontbinding van die span aangehaal. De Haas het beweer verklikkers en taakspanlede wat deurbrake gemaak het, is geteister met sommige wat doodsdreigemente ontvang het:
# President Cyril Ramaphosa sê die bekendstelling van produksie by Ivanplats se Platreef-myn in Limpopo sluit meer as 27-jaar se verkenning en ontwikkeling af. Hy het tydens die inhuldiging die myn se rol in die kritieke mineraalstrategie, groen energie en gemeenskapsontwikkeling geprys. Die president het die vyf-megawatt-sonplaas, waterbestuursprojekte en die werksmag se onderrig uitgelig, met die klem op mynbou as ‘n dryfveer vir ekonomiese groei. Ramaphosa het belanghebbendes aangespoor om saam te werk en volhoubare groei te verseker:
# Die Departement van Verdediging het ernstige kommer uitgespreek nadat die hoof van die Suid-Afrikaanse Vloot, Monde Lobese, gedurende ‘n galadinee oor die naweek kritiek uitgespreek het oor wat hy die chroniese onderbefondsing van die weermag noem. Lobese bevraagteken of die verdedigingsbegrotingsbesnoeiings direk of indirek beïnvloed kan word deur kriminele netwerke wat voordeel trek uit swakker maritieme sekuriteit. Siphiwe Dlamini van die Departement sê die opmerkings was onvanpas en oneerlik, en verteenwoordig nie die Departement se amptelike standpunt nie:
# Die Amerikaanse minister van Finansies, Scott Bessent, sê die G20 sal onder Amerikaanse presidentskap minder deelnemers hê. Hy het langs president Donald Trump in die Withuis gesê die G20 het die afgelope jaar inderwaarheid die G100 geword. Bessent sê in ‘n video wat gister uitgereik is ‘n gekonsentreerde groep in Miami sal die beste sien wat Amerika kan bied, onder Amerikaanse leierskap. Twee-en-veertig lande sal deelneem aan die naweek se G20-leiersberaad in Johannesburg waar Suid-Afrika die presidentskap in sy afwesigheid aan Amerika sal oorhandig.
# Rugby: Die Ierse senter Garry Ringrose en die voorspeler Josh van der Flier is beskikbaar vir Saterdag se toets teen Suid-Afrika, maar Stuart McCloskey gaan dit misloop. Ringrose en Van der Flier het albei herstel van agterknie-seningbeserings voor die botsing met die wêreldkampioen nadat hulle verlede naweek se oorwinning van 46-19 oor Australië misgeloop het. McCloskey het ‘n liesbesering opgedoen in die eerste helfte teen die Wallabies en Bundee Aki het hom vervang. Ierland sal Donderdag sy span aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-271-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-52-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….