Nuus 12:00
BULLETIN 18 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Investec se uitvoerende hoof sê Suid-Afrika se ekonomie kon 4,5-duisend-miljard-rand groter gewees et
# Suid-Afrika stel ‘n digitale toerismekern bekend vir internasionale gaste voor die G20-beraad
# En rugby: Die Bokke se hulpafrigter is gefrustreerd oor die teenstrydige beslissings
# Investec se uitvoerende hoof, Fani Titi, sê dis tyd vir Suid-Afrika om bydraes voor nakoming te stel, en doeltreffendheid voor ondersteuning. Hy het kommentaar gelewer op die huidige debat rondom die rol van swart ekonomiese bemagtiging en die uitwerking daarvan op die ekonomie. Volgens navorsing deur Investec sou die Suid-Afrikaanse ekonomie met groter ekonomiese insluiting nou ongeveer 12-duisend-miljard-rand werd wees en nie 7,5-duisend-miljard nie. Titi voer aan indien bemagtiging fokus op oordeelkundigheid in plaas van ideologie, sal bemagtiging nie belemmer word nie, maar eerder ‘n hupstoot kry.
Die Vryheidsfront Plus sê intussen Suid-Afrika se hervorming van ‘n welsynstaat na ‘n voorspoedige staat moet met volgende jaar se plaaslike verkiesing begin. Die party sê die meeste munisipaliteite stort in duie, met slegs 20-persent wat skoon oudits ontvang en 64 wat reeds wanfunksioneer en ekonomiese groei onmoontlik maak. Jaco Mulder van die VF Plus waarsku dat mislukte dienste soos water, elektrisiteit, vullisverwydering en paaie sakeondernemings wegdryf en beleggings belemmer.
# Die Departement van Toerisme, in samewerking met die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, SA Toerisme, die Gautengse Toerisme-owerheid en die Toerisme-Sakeraad van Suid-Afrika, gaan môre ‘n slim toerisme-besoekersinligtingsentrum bekend stel op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Die interaktiewe, papierlose sentrum sal onmiddellike inligting oor toerisme, kultuur en erfenis in al nege provinsies verskaf en G20-afgevaardigdes en internasionale besoekers verwelkom.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Mzwandile Stick, het uitgevaar teen wat hy beskryf as die onregverdige en teenstrydige beslissings wat tydens die jaareindtoer teen hulle ingestel is. Die slot Franco Mostert het Saterdag teen Italië ‘n permanente rooikaart ontvang vir ‘n beweerde hoogvat – ‘n week nadat Lood de Jager dieselfde lot teen Frankryk gely het. Die Bokke berei hulle voor om Ierland Saterdag in Dublin te pak. Stick sê hulle raak toenemend ontnugter met die huidige toedrag van sake:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-758-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-21-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-50-sent per vat.
# En laastens: Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens het die “Sê net totsiens”-bewusmakingsveldtog bekend gestel om Suid-Afrikaners te help om toenemend gesofistikeerde uitvissing-bedrogskemas te herken en daarop te reageer. Wim de Wet van die diens sê dit behels bedrieërs wat slagoffers skakel en voorgee hulle is van instellings soos banke, finansiële instellings, selfoonmaatskappy, versekeraars, wetstoepassing of staatsagentskappe. Hy sê hulle probeer slagoffers manipuleer om sensitiewe inligting bekend te maak of geld oor te plaas:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….