Nuus 11:00
BULLETIN 18 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile gaan die G20-maatskaplike beraad amptelik open
# ‘n Raadgewende paneel brei die keuringsproses vir die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings uit
# En rugby: Die Bokke se hulpafrigter is gefrustreerd oor die teenstrydige beslissings
# Adjunkpresident Paul Mashatile gaan vanmiddag die hoofrede lewer tydens die openingseremonie van die G20 se maatskaplike beraad in Boksburg, Gauteng. Die beraad, wat ‘n voorloper is vir die amptelike tweedaagse G20-leiersberaad hierdie naweek, is ‘n inklusiewe platform om die stemme van die burgerlike samelewing, grondvlak-organisasies en gemeenskappe te versterk. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die maatskaplike beraad speel ‘n belangrike rol in die vorming van beleid wat globale maatskaplike welsyn bevorder:
# Die raadgewende paneel vir ‘n nuwe direkteur van Openbare Vervolging het die oproep vir benoemings na alle regsliggame uitgebrei om die poel geskikte kandidate te vergroot. Die paneel het gister 27 aansoeke en benoemings ontvang, maar net ses het aan die minimum-vereistes voldoen. Die huidige direkteur, Shamila Batohi, se termyn verstryk einde Januarie. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling se woordvoerder, Terrence Manase, sê benoemings sluit nou eers Maandag:
# Die Universiteit van die Vrystaat sal op 21 November by die nasionale vroue-optrede aansluit om te betoog teen geslagsgeweld, vrouemoord en kindermishandeling. Nitha Ramnath van die universiteit sê hierdie gruweldade raak huise, skole, werkplekke en universiteite. Sy sê die UV doen ‘n beroep vir holistiese, trauma-gedrewe reaksies wat voorspraak, sielkunde en spiritualiteit kombineer. Sy sê studente, personeel en gemeenskappe word aangemoedig om slagoffers te ondersteun, veiligheid te bevorder en kampusse in ruimtes van genesing, geregtigheid en gedeelde menslikheid te omskep.
Nuus uit die buiteland:
# Die Kanadese Parlement het premier Mark Carney se eerste federale begroting met ‘n klein meerderheid goedgekeur en sodoende ‘n vroeë verkiesing afgeweer. Altesaam 170 parlementslede het daarvoor gestem en 168 daarteen. Begrotingstemme word soos mosies hanteer, daarom moes die regering wen om aan bewind te bly. Carney beskryf die begroting as ‘n geslags-geleentheid om in Kanada se ekonomiese toekoms te belê en afhanklikheid van Amerikaanse handel te verminder. Die Konserwatiewe Party het teen die begroting gestem en die regering beskuldig dat hulle nie bekostigbaarheidskwessies aangepak het nie.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Mzwandile Stick, het uitgevaar teen wat hy beskryf as die onregverdige en teenstrydige beslissings wat tydens die jaareindtoer teen hulle ingestel is. Die slot Franco Mostert het Saterdag teen Italië ‘n permanente rooikaart ontvang vir ‘n beweerde hoogvat – ‘n week nadat Lood de Jager dieselfde lot teen Frankryk gely het. Die Bokke berei hulle voor om Ierland Saterdag in Dublin te pak. Stick sê hulle raak toenemend ontnugter met die huidige toedrag van sake:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-989-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-drie-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….