Nuus 07:00
BULLETIN 18 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal met uitvoerende hoofde gesels voor die G20-leiersberaad
# Die DA sê die burgemeester van Johannesburg paai Samwu in plaas van om gebrekkige infrastruktuur te herstel
# En rugby: Die uitvoerende hoof van SA Rugby sê die Nasieskampioenskap gaan die spel verander
# President Cyril Ramaphosa sal vandag ‘n werksdinee met Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde toespreek as deel van die G20-uitreikprogram. Suid-Afrika het sedert hy die G20-presidentskap in Desember 2024 aanvaar het, samewerking in wetenskap, innovering, onderwys en handel bevorder. Die president sal verder met uitvoerende hoofde in gesprek tree oor die versterking van beleggings en vennootskappe, geleenthede vir Suid-Afrikaanse ondernemings uitlig en samewerking op die Afrika-vasteland bevorder.
Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê intussen die G20-leiersverklaring sal nie deur die Verenigde State van Amerika se afwesigheid geraak word nie. Altesaam 42 lande het bevestig hulle sal die naweek se leiersberaad in Johannesburg bywoon. Rusland, Mexiko, Argentinië en China sal egter deur ministers of adjunkte verteenwoordig word. Amerika sê hy sal die uitreiking van enige G20-verklaring buiten ‘n voorsitterverklaring teenstaan. Godongwana sê dis nie die eerste keer dat daar geopolitieke probleme in die G20 is nie:
# Die DA in Johannesburg vra ʼn ondersoek na tien-miljard-rand wat gebruik is om die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie tevrede te stel. Die party sê die geld moes gebruik word vir noodsaaklike water- en padprojekte. Die DA se koukusleier in Johannesburg, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê inwoners verdien water, paaie en werkende infrastruktuur, nie ʼn burgemeester wat eerder vakbonde paai as om aan inwoners se behoeftes aandag te gee nie. Sy sê dis politieke gedienstigheid op sy ergste:
# Gewapende mans het gister 25 meisies van die Government Girls Comprehensive Secondary School in die Kebbi-staat in die noordweste van Nigerië ontvoer. Die aanvallers, gewapen met gewere, het volgens berigte gekoördineerde taktieke gebruik, die skool bestorm en die onderhoof doodgeskiet voor hulle die meisies ontvoer het. Nog ʼn personeellid is gewond. Dis die eerste groot ontvoering by ʼn skool sedert Maart 2024 toe meer as 200 leerders by ʼn skool in Kuriga in die Kaduna-staat ontvoer is. Boko Haram is vermoedelik verantwoordelik vir die meeste ontvoerings by skole.
# Rugby: SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die pasgestigte Nasies-kampioenskap waar die 12 beste lande in die wêreld teen mekaar meeding, sal die spel wêreldwyd verander. Die Springbokke ontvang Engeland, Skotland en Wallis in Julie volgende jaar vir die tweejaarlikse toernooi. Oberholzer sê die kompetisie sal die bestaande internasionale venstertydperke in Julie en Novermber verander, wat beteken elke toets sal nou tel vir meer as net spog-regte en punte op die wêreldranglys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-566-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-24-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad, Santaco, betreur die dood van sy eerste demokraties-verkose president, Khorommbi Thomas Tshisikwawe Muofhe, op 14 November. Die woordvoerder van Santaco, Mmatshikhidi Rebecca Phala sê Muofhe was instrumenteel in die vereniging van taxiverenigings regoor Limpopo en het die stigting van Santaco gelei. Phala sê hy sal onthou word vir die bevordering van eenheid, die vermindering van taxigeweld en die versterking van demokratiese regering. Sy sê sy visie en leierskap het die bedryf gevorm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….