Nuus 06:00
BULLETIN 18 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê daar sal geen verdere vlugte met Palestyne wees nie
# Die ACDP wil antwoorde hê oor die aankoms van die Palestynse vlugtelinge in Suid-Afrika
# En Berlyn gaan die verbod op wapenverkope aan Israel ophef
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika wil geen verdere vlugte ontvang met Palestynse vlugtelinge aan boord nie. Dit volg na ’n gehuurde vliegtuig met 153 passasiers verlede week sonder behoorlike dokumentasie op OR Tambo Internasionale Lughawe geland het. Lamola het die aankoms as verdag beskryf en dit verbind met ‘n beweerde Israelse plan om Palestyne uit Gaza te hervestig. Hy vra vir ‘n deeglike ondersoek oor die vlug en die organiseerders:
Intussen het die ACDP Suid-Afrika se immigrasiewette as swak bestempel nadat die party die aankoms van die Palestynse vlugtelinge in Suid-Afrika bevraagteken het. Die party sê daar was moontlike oortredings van immigrasiewette. Die groep is in die land toegelaat met 90-dae humanitêre visums. ACDP-adjunkpresident, Wayne Thring sê dit is kommerwekkend dat misdadigers van enige plek Suid-Afrika kan binnekom en aansoek doen vir vlugtelingstatus:
# ‘n Voormalige lid van die taakspan vir politieke moorde, Ntate Khumalo, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het die 121 dossiere laas op 26 Maart hanteer, nadat hy dit ontvang het van twee lede wat dit van KwaZulu-Natal oorgeplaas het. Khumalo sê die dossiere is in Augustus terugbesorg, na polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi se perskonferensie op 6 Julie, en noem dit het gevoel het soos die stilte na die storm:
# Die ANC in Ekurhuleni het sy kommer uitgespreek oor getuienis wat uit die Madlanga-kommissie na vore gekom het oor die Ekurhuleni Metropolisie. Die geskorste adjunkhoof van die metropolisie, Julius Mkhwanazi, word beskuldig dat hy ‘n skelm eenheid binne die departement bestuur het wat medepligtig was aan verskeie misdade, van moord tot diefstal, bedrog en korrupsie. Die ANC sê die bewerings teen die metropolisie is ernstig, verdoemend en regverdig korrektiewe maatreëls. Die party vereis ‘n dringende interne ondersoek en ferm optrede om verantwoordbaarheid en gevolgbestuur te verseker.
# Duitsland het Maandag besluit om wapenverkope aan Israel te hervat, maar het beklemtoon die besluit is onderhewig aan die nakoming van die wapenstilstand in Gaza en die grootskaalse lewering van humanitêre hulp. Duitsland is die tweede grootste uitvoerder van wapens na Israel, nadat die Verenigde State in Augustus, te midde van toenemende druk oor die oorlog, ‘n opskorting van sommige wapenuitvoere na Israel aangekondig het. Berlyn sal die opskortingsbevel op 24 November ophef en terugkeer na die hersiening van wapenuitvoere per geval, terwyl die ontwikkelinge op die grond steeds gemonitor word.
# Krieket: Die gewese Indiese kolwer Cheteshwar Pujara aanvaar nie die huidige oorgangstydperk as verskoning vir die nederlaag teen Suid-Afrika in die eerste toets in Kolkata nie. Dit was die Proteas se eerste oorwinning in die land sedert 2010. Die besoekers het gesukkel met die kolf en kon slegs altesaam 313 lopies aanteken in hul twee beurte, maar Indië is vir net 93 uitgeboul terwyl hulle ‘n wenteiken van slegs 124 gejaag het. Pujara bevraagteken die kolwers se benadering op ‘n onvoorspelbare kolfblad. Die laaste toets begin Saterdag in Guwahati.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-930-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-48-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….