Nuus 15:00
BULLETIN 17 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motsepe sê geen oplossing is verskaf nadat KwaZulu-Natalse dossiere oor politieke moorde na Gauteng verskuif is nie
# Nedbank verwag Donderdag nog ‘n rentekoersverlaging
# En rugby: Die Bokke speel teen Engeland, Skotland en Wallis aan die begin van die nuwe Nasies-kampioenskap
# ‘n Generaal-majoor van die polisie, Mary Motsepe, het die Madlanga-kommissie vertel sy is nooit ‘n oplossing gebied nadat dossiere van die taakspan vir politieke moorde uit KwaZulu-Natal verwyder en na die hoofkantoor in Gauteng verskuif is nie. Sy sê sy moes haar eie strategie uitwerk en het die geskorste assistent-nasionale kommissaris, Shadrack Sibiya, geraadpleeg oor redes vir die besluit:
Young Intelligent Minds of South Africa sê intussen die gedrag van sommige lede van die parlementêre ad hoc-komitee is oorweldigend omdat dit ander moontlike getuies kan afskrik. Die komitee ondersoek bewerings van inmengery, misdadigheid en korrupsie in die strafregstelsel. Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se personeelhoof, Cedrick Nkabinde, het verlede week onder skoot gekom omdat hy tydens sy getuienis nie sekere datums kon onthou nie. Die organisasie se woordvoerder, Jeff Mabunda, sê sommige komiteelede se gedrag moet verander:
# Ekonome van Nedbank verwag Donderdag nog ‘n rentekoersverlaging van 25-basispunte tydens die Suid-Afrikaanse Reserwebank se laaste Monetêre Beleidskomitee-vergadering van vanjaar. Die voorspelling volg nadat inflasiedata in Augustus laer as verwag was op 3,3-persent, wat hoër as die bank se voorkeur-koers van drie-persent is. Nedbank beklemtoon ‘n bestendige rand en algemene wêreldwye afname bied ‘n gunstige omgewing vir die verslapping van monetêre beleid. Daar is egter steeds gevare weens plaaslik-geadministreerde pryse soos elektrisiteit en die Amerikaanse Federale Reserweraad wat moontlik sy koers sal handhaaf.
Nuus uit die buiteland:
# Amerika sê intelligensie het bevestig die vaartuig wat hulle die naweek in die oostelike Stille Oseaan aangeval het, was betrokke by onwettige dwelmsmokkelary, het op ‘n bekende dwelmsmokkelroete gevaar en het dwelms vervoer. Drie mense aan boord is dood. Die boot was in internasionale water toe die Amerikaanse Gesamentlike Taakmag dit aangeval het. Dit is tot dusver die Amerikaanse Weermag se 21ste aanval op dwelmbote sedert vroeg September. Volgens syfers van die Pentagon is altesaam meer as 80 mense dood in die aanvalle.
# Rugby: Engeland, Skotland en Wallis gaan middel volgende jaar in Suid-Afrika teen die Springbokke speel aan die begin van die nuwe Nasies-kampioenskap. Die kompetisie word bestempel as ‘n mylpaal-gesamentlike onderneming tussen die Suidelike Halfrond-beheerliggaam, Sanzaar, en die Sesnasies, en sal elke tweede jaar gespeel word. Dit behels die twaalf beste lande in die wêreld wat meeding in die bestaande toetsgleuwe in Julie en November. Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië, Argentinië, Japan en Fidji sal die suide verteenwoordig teen die Sesnasies-spanne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-674-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-66-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….