Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die heersende kampioen, Suid-Afrika, is nou tweede op die Internasionale Krieketraad se Wêreld-toetskampioenskaps-punteleer vir 2025 tot ’27. Dit volg na hul eerste toetsoorwinning in Indië sedert 2010 toe hulle gister in Kolkata met 30 lopies geseëvier het. Die Proteas is nou 24 punte agter Australië, met Sri Lanka derde, Indië vierde en Pakistan vyfde. Elkeen van die sewe lande in die kampioenskap speel drie reekse tuis en drie weg. Die twee topspanne dring deur na die eindronde in 2027.
# Rugby: Die haker Bongi Mbonambi en die stut Ntuthuko Mchunu het in Ierland by die Springbokke aangesluit terwyl Rassie Erasmus en sy afrigtingspan voorberei vir hul laaste twee kragmetings van die oorsese toer. Erasmus sê hy het besluit om hulle op te roep omdat die toer langer as gewoonlik is en twee groot wedstryde teen Ierland en Wallis voorlê. Die Springbokke het gister uit Italië na Dublin gereis en sal vandag met hul voorbereiding op die veld begin vir Saterdag se wedstryd teen die Iere.
Japan se hoofafrigter, Eddie Jones, het intussen Wêreldrugby se huidige dissiplinêre raamwerk gekritiseer ná sy span se naelskraapse nederlaag van 24-23 teen Wallis in Cardiff. Drie Japanese spelers het geelkaarte gekry, terwyl die Walliese vleuel, Josh Adams, se geelkaart verander is na ‘n rooie weens gevaarlike spel. Jones beskryf ook die Springbok-slot Franco Mostert se rooikaart vir ‘n gevaarlike duikslag op Italië se losskakel, Paolo Garbisi, as belaglik:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, het sy groot mededinger, Carlos Alcaraz, geklop en sy titel in die ATP-jaareindtoernooi behou. Die 24-jarige Italianer het die titel gewen sonder om ‘n stel in die toernooi af te staan, en die eindstryd 7-6, 7-5 gebuit. Hy het sy agtereenvolgende binnenshuise oorwinnings tot 31 wedstryde uitgebrei. Sinner is die negende man wat in agtereenvolgende jare die jaareindkampioenskap wen, en sê die trofee is die beste manier om die seisoen af te sluit:
# En laastens, gholf: Die vyfmalige major-kampioen, Rory McIlroy, het die Wedloop na Dubai-titel die vierde agtereenvolgende jaar en die sewende keer in sy loopbaan gewen. Die Noord-Ier was naaswenner in die seisoen se laaste DP World-toerkampioenskap in Dubai, wat Matt Fitzpatrick van Engeland in ‘n uitspeelronde gewen het. Die Switser Ludvig Åberg en Tommy Fleetwood van Engeland deel die derde plek. McIlroy sê dis ʼn eer om die Spanjaard Seve Ballesteros se kerf van ses titels verby te steek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….