Nuus 12:00
BULLETIN 17 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Nuwe minister en adjunkminister is in die Uniegebou ingehuldig
# Die DA sê die NGV-befondsingsmodel het gesneuwel ná Godongwana se uitlatings
# En rugby: Mbonambi en Mchunu sluit in Ierland aan by die Springbokke
# Die DA-lid, Willie Aucamp, is ingehuldig as die nuwe minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing. Hy vervang Dion George van dieselfde party. Die DA se voormalige nasionale verteenwoordiger vir Maatskaplike Ontwikkeling, Alexandra Abrahams, het die amp as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging aanvaar. Sy vervang Andrew Whitfield, wat in Junie verwyder is ná ‘n ongemagtigde internasionale reis na Amerika. President Cyril Ramaphosa het die nuut-aangestelde leiers alle sukses toegewens.
Intussen word George volgens berigte beskuldig van onder meer seksuele wangedrag. Volgens News24 het personeel hom daarvan beskuldig dat hy sonder waarskuwing ander klere aangetrek het terwyl hy in ‘n kamer met ‘n personeellid was en eksplisiet van sy vorige seksuele ontmoetings vertel het. George het na bewering ook luukse internasionale reise onderneem en was lief vir duur hotelle. Hy het die bewerings ontken en gesê dis ‘n poging om sy reputasie te skaad.
# Die DA sê die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se Nasionale Gesondheidsversekeringsprogram is bewys as uitsluitlik ideologies en tot nadeel van die werkersklas. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die departement se NGV-befondsingsplan gekritiseer en sê dis ‘n aanval op die middelklas weens die voorstel om mediese belastingkrediete te skrap. Michele Clarke van die DA sê naas talle litigasies en die breë afkeuring uit die privaat sektor, is daar groot teenstand teen die NGV:
# Rugby: Die haker Bongi Mbonambi en die stut Ntuthuko Mchunu het in Ierland by die Springbokke aangesluit terwyl Rassie Erasmus en sy afrigtingspan voorberei vir hul laaste twee kragmetings van die oorsese toer. Erasmus sê hy het besluit om hulle op te roep omdat die toer langer as gewoonlik is en twee groot wedstryde teen Ierland en Wallis voorlê. Die Springbokke het gister uit Italië na Dublin gereis en sal vandag met hul voorbereiding op die veld begin vir Saterdag se wedstryd teen die Iere.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-784-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-80-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-72-sent per vat.
# En laastens: Die Universiteit van die Wes-Kaap betreur die dood van Franklin Sonn. Die 86-jarige Sonn wat as demokratiese Suid-Afrika se eerste ambassadeur in die Verenigde State gedien het, is Saterdag in Kaapstad dood. Gasant Abarder van die UWK sê Sonn se nalatenskap van integriteit, leierskap en koersvaste diens sal steeds geslagte akademici en burgers inspireer en ook almal wat verbind is om die land wat hy so liefgehad het, op te bou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….