Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Kaapstad se brandbestryders probeer tans om ‘n brand onder beheer te bring wat gisteraand in die Redhill-gebied uitgebreek het. Vyf brandweerwaens, drie watertenkwaens, en ligte voertuie met watertenks, pompe en pype is ontplooi. Die woordvoerder van die stad se brand- en reddingsdiens, Jermaine Carelse, sê die bemanning van drie helikopters is vroeër vanoggend uitgestuur om waterbomme af te gooi. Hy sê geen eiendom is beskadig nie en geen beserings is aangemeld nie:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het die spertyd vir openbare kommentaar op die hersiening van permitte vir storting in seewater uitgestel. Die permitte word aan visfabrieke in St Helenabaai aan die Weskus uitgereik. Die departement sê die proses van die hersiening van die permitte is nodig om die strydighede in die voorwaardes vir die permitte uit te klaar, eenvormighed te skep en die geleidelike en konsekwente verbetering van die watergehalte in St Helenabaai oor ‘n tydperk van vyf jaar te verseker. Die spertyd is tot 29 Februarie uitgestel.
# En ten slotte: Die onafhanklike kragmaatskappy Globeleq het die herstrukturering van sy Aries- en Konkoonsies-sonkragaanlegte in die Noord-Kaap se skuld van 700-miljoen-rand afgehandel. Die sonkragaanlegte wat elf-megawatt lewer, is in 2014 in bedryf gestel as deel van Suid-Afrika se program om hernubare energie by onafhanklike kragverskaffers aan te koop. Globeleq sê die herstrukturering sluit onder andere in ʼn aansienlike daling in die aanlegte se groothandel-elektrisiteitspryse, ʼn doeltreffender kapitaalstruktuur, en die vrystelling van fondse sodat aandeelhouers in die elektrisiteitsektor kan herbelê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….