Nuus 08:00
BULLETIN 17 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Withuis verwerp minister Lamola se bewerings dat Trump ‘n wit oppergesag-agenda nastreef
# Meer as 30-miljoen-rand se nagemaakte goedere word landwyd gekonfiskeer
# Meer as 30 is dood nadat ‘n brug by ‘n kopermyn in die DRK ineenstort
# Die Withuis verwerp Suid-Afrika se minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, se bewerings dat president Donald Trump se administrasie ‘n witheerskappy-agenda het. Dit hou verband met wysigings aan die Amerikaanse vlugtelingprogram. Lamola het aan CNN gesê die program se inname van wit Afrikaners uit Suid-Afrika is ʼn agenda om wit heerskappy te ondersteun. Hy sê volgens die Geneefse Konvensie is Afrikaners nie vlugtelinge nie. Die Withuis sê Trump benader die vlugtelingkwessie met ʼn humanitêre hart.
# Die polisie en sy misdaadbestrydingsvennote het gesamentlik beslag gelê op nagemaakte en onwettige goedere ter waarde van meer as 30-miljoen-rand tydens onlangse landwye arrestasies. Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê oor die afgelope twee weke het multidissiplinêre polisiespanne lasbriewe vir deursoeking en beslaglegging bedien op winkels en bergingsfasiliteite in KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap. Sy sê dit het gelei tot die beslaglegging op meer as 800-duisend nagemaakte en onwettige items:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê die Hooggeregshof in Bisho se beslissing oor die ondersoek na die toekenning van grade by die Universiteit van Fort Hare verhoed nie dat hy voortgaan met sy ondersoek nie. Die hof het ten gunste van die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, beslis wat keer dat die Ondersoekeenheid bewerings ondersoek hy bedrieglik vir ʼn meestersgraad geregistreer het. Die Ondersoekeenheid se woordvoerder, Kaizer Kganyago, het aan Newzroom Afrika gesê die beslissing is gebaseer op ʼn gewysigde proklamasie:
# Minstens 32 mense is in die Demokratiese Republiek die Kongo dood nadat ʼn brug by ʼn koper-en-kobaltmyn ineengestort het omdat dit te swaar was. Meer as 20 mense is beseer. Die ondersteunings- en begeleidingsdiens vir ambagslui en kleinskaalse myners sê soldate het skote afgevuur wat paniek veroorsaak het onder onwettige mynwerkers by die Kalando-myn in die Lualaba-provinsie. Hulle het die tydelike brug bestorm wat oor ʼn sloot vol water opgerig is. Dit het meegegee en mense het op mekaar geval, wat beserings en sterftes veroorsaak het.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee Jannik Sinner het sy naaste teenstander, Carlos Alcaraz, geklop en sy titel in die ATP-jaareindtoernooi behou. Die 24-jarige Italianer het die titel gewen sonder om een stel in die toernooi af te staan, en die eindstryd met 7-6, 7-5 te buit. Hy het sy binnenshuise oorwinnings tot 31 wedstryde uitgebrei. Sinner is die negende man wat in agtereenvolgende jare by die jaareindkampioenskap koning kraai, en sê die trofee is die beste manier om die seisoen af te sluit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-325-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-78-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….