Nuus 11:00
BULLETIN 16 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gift of the Givers eis ‘n ondersoek na die rol van Israel en lugrederye in vermoedelike mensehandel
# Donald Trump dui aan hy het ‘n besluit geneem oor militêre operasies in Venezuela
# En Tennis: Dis Alcaraz teen Sinner vir die ATP-jaareindtitel
# Gift of the Givers eis dat die Presidensie en regeringsagentskappe ondersoek instel na die rol van Israel en lugrederye in wat vermoedelik mensehandel kan wees. Die woordvoerder Sarah Oosthuizen sê die omstandighede rondom die 153 Palestyne wat hierdie week by die OR Tambo Internasionale Lughawe aangekom het, wek ernstige kommer oor mensehandel en Israel se etniese suiwerings. Sy sê mense is op die webwerf van ‘n organisasie genaamd Al-Majd geregistreer:
# President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die opvoeder, diplomaat en sakeleier, Franklin Sonn, wat ‘n beduidende bydra gelewer het in verskeie sektore van die samelewing en die ekonomie. Sonn, ‘n ontvanger van die Orde van die Kremetart, is op 86-jarige ouderdom dood. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa betuig sy meegevoel aan Sonn se familie en sy nasionale en internasionale vriende:
# Die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede het sy verbintenis tot die beëindiging van geslagsgeweld en vrouemoord in Suid-Afrika herbevestig. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê hulle gaan voort om pogings te lei om die volle toepassing van die Nasionale Strategiese Plan oor geslagsgeweld te verseker. Hy sê die stryd vereis kollektiewe optrede en ‘n volgehoue verbintenis van alle sektore van die samelewing:
# Gauteng se LUR vir Menslike Nedersettings, Tasneem Motara, vra alle begunstigdes van HOP-huise om nie hul huise te verkoop of te verhuur nie, veral nie aan ongedokumenteerde buitelanders nie. Die departement se woordvoerder, Tahir Sema, sê hierdie optrede is onwettig, ondermyn die staat se stryd teen dakloosheid, en ontneem ‘n werklik behoeftige Suid-Afrikaanse gesin van ‘n huis. Hy sê die agterstand in behuising is ‘n strukturele uitdaging as gevolg van die sukkelende ekonomie en vinnige verstedeliking:
# President Donald Trump het aangedui hy het ‘n besluit geneem oor ‘n plan van aksie in Venezuela. CNN berig amptenare het Trump hierdie week ingelig oor keuses vir militêre operasies om president Nicolás Maduro moontlik uit die kussings te lig. Daar is reeds verskeie Amerikaanse weermag-oorlogskepe en 15-duisend soldate in die streek. Trump het vroeër aangedui hy beweeg nader aan ‘n manier om onwettige migrante en dwelms te verminder asook die moontlikheid van ‘n regimeverandering. Kenners sê Trump sal waarskynlik lang militêre betrokkenheid en chaos in die gesig staar indien hy Maduro verwyder.
# Tennis: Carlos Alcaraz en Jannik Sinner sê mekaar vandag die stryd aan nadat die sport se twee grootste sterre Saterdag na die finaal van die gesogte ATP-jaareindtoernooi deurgedring het. Alcaraz is reeds bevestig as die wêreldnommer-een aan die einde van die jaar en het Felix Auger-Aliassime met 6-2, 6-4 in Turyn geklop. Sinner het Alex de Minaur huis toe gestuur na ‘n oorwinning van 7-5, 6-2. Dit dek die tafel vir ‘n titeleindstryd wat tennisaanhangers se monde laat water, na ‘n reeks opwindende wedstryde tussen die twee tot dusver vanjaar. Alacaraz het vier van sy vyf ontmoetings teen Sinner gewen, almal in die eindstryd van topvlak-toernooie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….