Nuus 09:00
BULLETIN 16 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê voorbereidings vir die ANC se nasionale algemene raadsvergadering vorder goed
# Sokker: Bafana sit Zambië ore aan in Gqeberha
# En: Die voormalige ambassadeur in die VSA Franklin Sonn sterf op 86
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê voorbereidings vorder goed vir die ANC se Nasionale Algemene Raadsvergadering in Desember. Mbalula het by die ANC se nasionale uitvoerende komiteevergadering in Germiston, Ekurhuleni gesê dit sal ‘n platform wees om die toepassing van Konferensieresolusies krities te evalueer. Hy sê die NAR ook sal besin oor die prestasie van die regering van nasionale eenheid, ekonomiese prioriteite, versnelde dienslewering en vordering met die heropbou van die staat:
# Eskom sê dieseluitgawes vir die jaar tot dusver bly deurgaans onder die begroting. Woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dieseluitgawes vir die afgelope week was slegs 4,8-miljoen-rand, vergeleke met 287,64-miljoen-rand gedurende dieselfde tydperk verlede jaar. Dit onderstreep die finansiële en operasionele voordele van Eskom se ommekeer. Sy sê die diesel is slegs gebruik vir omgewingskorrelasietoetse op Eenheid 12 by Ankerlig-kragstasie om aan statutêre vereistes te voldoen:
# Minstens vier mense is Saterdag dood nadat twee bote met byna 100 migrante langs die kus van Libië gesink het. Die Libiese Rooi Halfmaan het tot dusver bevestig almal wat dood is was passasiers op ‘n boot met 26 mense uit Bangladesj. Die humanitêre groep het nie gesê of enige van die 70 meestal Soedanese op die tweede boot dood is nie. Volgens die VN se Internasionale Organisasie vir Migrasie het die bote die sentrale Middellandse See-roete tussen Noord-Afrika en Italië gebruik, wat as die dodelikste migrasieroete ter wêreld beskou word.
# Sokker: Bafana Bafana het Saterdagmiddag op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha met 3-1 oor Zambië geseëvier. Die uitslag het bewys die woord “vriendelik” is nie deel van die Belgiese afrigter Hugo Broos se woordeskat nie. Broos het dit gedurende die week duidelik gemaak daar is geen pretwedstryde onder hom nie, en sy spelers het dit ter harte geneem. Doele deur Oswin Appollis, Mohau Nkota en Sphephelo Sithole het Bafana Bafana tot’n oortuigende oorwinning gelei. Die sege sal hul selfvertroue verder versterk voor die kontinentale kampioenskap, wat oor net meer as vyf weke in Marokko begin.
# Gholf: JC Ritchie het die Stella Artois Spelerskampioenskap op die Sonskyntoer met twee houe op 17 onder baansyfer gewen, na ‘n marathondag by Randpark Gholfklub. Die derde en vierde rondtes is albei gister gespeel, om die gure weer te vermy wat vir vandag voorspel word. Die beroepspelers op die Sonskyntoer moes dus 36 putjies op een dag voltooi. Ritchie en Bryce Easton het die derde rondte gesamentlik eerste voltooi, maar Richie se laaste rondte van 69 het die oorwinning vir hom verseker. Christiaan Burke en Oliver Bekker het die tweede plek gedeel op 15 onder baansyfer.
# En laastens: Die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in die Verenigde State, Franklin Sonn, is in die ouderdom van 86 dood. Sy seun Crispin sê hy is Saterdag-middag omstreeks half-vier dood terwyl hy rugby gekyk het – een van sy gunsteling tydverdrywe. Sonn is in die Karoo gebore en het aan die Universiteit van die Wes-Kaap gegradueer. Hy het sy loopbaan as opvoeder begin en later rektor van die Skiereiland Technikon geword. President Nelson Mandela het hom in 1995 as Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde State aangestel, ‘n rol waarin hy die land tydens sy deurslaggewende demokratiese oorgang verteenwoordig het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….