Nuus 13:00
BULLETIN 15 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU vra vir dringende optrede om Suid-Afrika se verkrummelde infrastruktuur te herbou
# Rugby: Die Bokke en Italië skop ’n opwindende naweek van internasionale kragmetings af
# En, die veteraanjoernalis Clarence Keyter sterf op 80
# Die vakbondfederasie SAFTU doen ‘n beroep op die regering en die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur om dringend op te tree om Suid-Afrika se verkrummelde infrastruktuur te herbou. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die nuwe Agentskap vir Infrastruktuurfinansiering en -toepassingsteun aangekondig, wat teen Maart 2026 in werking sal wees. Die doel is om projekvoorbereidingsondersteuning vir die infrastruktuurplan te bied. Asive Dyani van SAFTU sê wanneer infrastruktuur ineenstort, is dit werkers en die armes wat ly:
# Die DA het die opgradering van Suid-Afrika se kredietgradering deur S&P vir die eerste keer sedert Augustus 2005 verwelkom. Jan de Villiers van die DA sê die BB-gradering is ‘n duidelike teken van ‘n positiewe vooruitsig, wat verdere bevestiging is dat Suid-Afrika, onder die regering van nasionale eenheid, nuwe fiskale geloofwaardigheid het:
# Eskom sê sy opwekkingsvloot toon steeds veerkragtigheid en verbetering, wat ‘n beduidende ommekeer aandui as gevolg van die sukses van die opwekkingsherstelplan. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Suid-Afrika het nou 182 opeenvolgende dae sonder onderbroke toevoer ervaar, met slegs 26 uur se beurtkrag wat in April en Mei in die finansiële jaar aangeteken is. Sy sê die energiebeskikbaarheidsfaktor het tot dusver die maand 70,75-persent bereik, ‘n noemenswaardige toename vergeleke met 63,16-persent verlede jaar:
# President Donald Trump het ‘n uitvoerende bevel onderteken wat ‘n reeks voedselprodukte, insluitend koffie, piesangs en beesvleis, vrystel van sy tariewe. Die stap volg terwyl sy regering onder toenemende druk gebuk gaan oor stygende pryse. Terwyl Trump voorheen kommer oor lewenskoste geignoreer het, het hy op die kwessie begin fokus na die swak prestasie van sy party in verlede week se verkiesing. Die tientalle produkte wat op die Withuis se lys van vrystellings ingesluit is, wissel van avokado’s en tamaties tot klappers en mango’s. Die Trump-administrasie sê hierdie produkte word nie voldoende binnelands geproduseer nie.
# Rugby: Die Springbokke en Italië skop vanmiddag om 2:40 ‘n naweek van opwindende internasionale aksie in Turyn af. Dit word gevolg deur die wedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland op Twickenham, waarna Wallis met Japan kragte meet op die Principality-stadion in Cardiff. Die Wallabies ná ‘n nederlaag teen Italië, ontmoet Ierland in die Aviva-stadion in Dublin, en Frankryk en Fidji pak mekaar in Bordeaux. Môre kom Skotland teen Argentinië te staan op Murrayfield in Edinburgh.
# En ten slotte: Die veteraanjoernalis Clarence Keyter is gisteraand op die ouderdom van 80 oorlede. Keyter het destyds bekendheid verwerf toe hy die regstreekse TV-beriggewing vir SABC behartig het oor oudpresident Nelson Mandela se vrylating uit die Victor Verster-gevangenis. Keyter, wat aanvanklik slegs sewe minute op die lug sou wees, was uiteindelik 76 minute op die lug nadat Mandela se vrylating vertraag is. Dié uitsending is na 116 lande wêreldwyd herlei. Hy word deur sy vrou, Francis, oorleef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….