Nuus 11:00
BULLETIN 15 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# S&P gradeer Suid-Afrika vir die eerste keer in byna 20 jaar op
# SAFTU verwelkom die optrede teen die boumafia
# En krieket: ‘n Indiese tiener slaan ‘n tweede T20-honderdtal voor sy 15de verjaarsdag
# Suid-Afrika het gister sy eerste kredietopgradering in byna 20 jaar ontvang nadat S&P Global die land se langtermyn-heersende gradering in buitelandse valuta van BB-minus na BB verhoog het. Die agentskap het sterker groeivooruitsigte, ‘n verbeterende fiskale vooruitsig en verminderde voorwaardelike laste aangevoer na ‘n beter prestasie by Eskom. Hierdie week se middeltermyn-begrotingsoorsig het getoon die skuld tot BBP-verhouding in die boekjaar sal bestendig bly op 77,9-persent. Fiskale inkomste het begrotingsteikens vroeg in 2025 oortref, en die agentskap sien opeenvolgende jare van primêre surplusse en voortgesette fiskale konsolidasie tot 2028.
# Die vakbondfederasie, SAFTU het die beduidende vordering verwelkom wat die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur gemaak het om die boumafia vas te vat. Minister Dean Macpherson het vroeër aangekondig dat sedert die regering se gekoördineerde reaksie in November 2024 begin het, daar 770 aangemelde gevalle van bouverwante afpersing en intimidasie regoor die land was. Asive Dyani van SAFTU sê 241 arrestasies is gemaak en 176 individue is skuldig bevind in verband met die sake:
# Die energiereguleerder, Nersa, het nuwe reëls vir tribunaalverrigtinge in die staatskoerant gepubliseer om toesig oor die energiesektor te verbeter. Die reëls bepaal hoe die reguleerder nie-nakoming deur lisensiehouers in elektrisiteits-, gas- en petroleumpyplyne sal hanteer. Dit sluit die uitreiking van voldoeningskennisgewings in, die beoordeling van oortredings en die oplê van boetes. Charles Hlebela van Nersa sê die tribunaalreëls sal regulering verbeter deur te verseker dat handhawingsaksies deursigtig, billik en deur ‘n duidelike wetlike raamwerk gelei word:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê alle brande in die Montagu-gebied is onder beheer, met een brandlyn wat steeds brand in DeDoorns. Die munisipale woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê na meer as ‘n week van intensiewe brandbestryding is die brand naby Montagu nou onder beheer. Sy sê smeulende boomstompe en brandpunte sal egter omvattende opruiming vereis voordat die gebied ten volle veilig verklaar kan word:
# En sportnuus:
# Krieket: Die Indiese tiener Vaibhav Suryavanshi het gister ‘n asemrowende 144 lopies van 42 balle gemoker toe hy met sy tweede T20-honderdtal bygedra tot Indië A se 148 lopies teen die Verenigde Arabiese Emirate in Doha. Die 14-jarige het elf viere en 15 sesse geslaan, en sodoende 134 van sy lopies met viere en sesse aangeteken. Suryavanshi het vanjaar roem verwerf in die Indiese Premierliga toe hy die jongste speler geword het om ‘n honderdtal in die mans-T20 aan te teken. Hy het nou ook sy naam in die krieketgeskiedenis verewig as die jongste speler om ‘n honderdtal vir ‘n mans nasionale span te slaan.
# En sokker: Cristiano Ronaldo loop die gevaar om Portugal se openingswedstryd by volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi te mis nadat hy ‘n rooikaart in Donderdag se 2-0-nederlaag teen die Republiek van Ierland ontvang het. Hy het aanvanklik ‘n geelkaart ontvang nadat hy die Ierse verdediger Dara O’Shea tydens die wedstryd in Dublin met ‘n elmboog gestamp het. Dit is egter na ‘n rooikaart opgegradeer en Ronaldo is vir die eerste keer in sy internasionale loopbaan afgestuur nadat die voorval deur die skeidsregter hersien is. FIFA se dissiplinêre reëls vereis ‘n skorsing van ten minste twee wedstryde vir ernstige vuilspel en vir ten minste drie vir gewelddadige gedrag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….