Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Stormers en die Bulle speel hierdie naweek hulle laaste groepwedstryde in die Kampioenebeker. Die Stormers pak Stade Francais in Parys en die Bulle is gashere vir nog ‘n Franse span, Bordeaux Bègles, in Pretoria. Albei spanne benodig net twee ligapunte om deur te dring na die volgende ronde. In die Uitdaagbeker kan die Haaie en die Cheetahs nog albei deurdring na die volgende ronde, terwyl die Leeus reeds hulle plek verseker het. Die Cheetahs speel môre in Frankryk teen Oyonnax, terwyl die Haaie Sondag in Newport, Wallis, met die Dragons kragte meet.
Intussen herdenk die Suid-Afrikaanse Poskantoor die Springbokke as wêreldkampioen van 2023 met ‘n spesiale stel internasionale en standaard-posseëls. Die standaard-seël beeld ‘n rugbyveld uit met ‘n goue rugbybal gestel vir ‘n strafskop. Die internasionale seël wys ‘n goue rugbybal omring met ‘n tipografiese ontwerp met die woorde World Champions 2023 en die datums van die Bokke se vorige drie oorwinnings. Die Poskantoor beklemtoon die waarde van die seëls vir versamelaars én gebruikers.
# Vervolgens, krieket: Will Jacks van Engeland het ʼn uitstekende vertoning gelewer en die Pretoria Capitals na hulle eerste sege in vanjaar se SA20-seisoen gelei met ʼn oorwinning van 17 lopies oor Durban’s Super Giants in Centurion. Jacks het 101 van 42 balle en die derde honderdtal van hierdie seisoen gemoker, wat die Capitals se totaal op 204 vir nege gebring het. Daarna het Jacks, Hardus Viljoen en Wayne Parnell elkeen twee paaltjies platgetrek om die Super Giants tot 187 vir sewe te beperk. Colin Ingram van die Pretoria Capitals sê dis wonderlik om hulle eerste oorwinning te behaal:
# Ons maak ‘n draai by die Australiese Ope-tennistoernooi: Verlede jaar se naaswenner, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, het ‘n watertandlekker kragmeting met die Amerikaner Taylor Fritz in die vierde ronde verseker. Hy het Luca van Assche van Frankryk in skoon stelle, verslaan, terwyl Fritz die Hongaar Fabian Marozsan geklop het. Die Italianer Jannik Sinner het sy derde oorwinning in skoon stelle behaal, oor die Argentyn Sebastian Baez, en die derde agtereenvolgende jaar na die laaste sestien deurgedring. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, maklik afgereken met Lesia Tsurenko van Oekraïne.
# Ons sluit af met gholf: Die voormalige wenner, Li Haotong van China, het vyf onder baansyfer 67 in die eerste ronde van die Dubai Desert Classic aangeteken en is saam met nog drie spelers gesamentlik eerste. Hulle is Rasmus Højgaard van Denemarke, die Amerikaner Cameron Young en Andy Sullivan van Engeland. Richard Mansell van Engeland is saam met vier ander in die tweede plek met vier onder baansyfer. Rory McIlroy van Noord-Ierland het sy pogings om die titel vir ‘n rekord vierde keer in te palm met 71 afgeskop en is vier houe agter die voorlopers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….