Nuus 11:00
BULLETIN 19 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement sê leerders wat nie hul skoolloopbaan voltooi nie wek kommer
# Israel se eerste minister verwerp die idee van ‘n Palestynse staat
# En tennis: Stafanos Tsitsipas is deur na ‘n vierderonde-kragmeting met Taylor Fritz in die Australiese Ope
# Die African Transformation Movement sê hy neem kennis van die styging van 2,8 persentasiepunte in die 2023-matriekklas se slaagsyfer. Hy voeg egter by die ware syfer is laer wanneer die definisie verbreed word om die getal in te sluit wat oorspronklik in graad een ingeskryf het. Verlede jaar se matriekslaagsyfer is 82,9-persent, wat hoër is as die 80,1-persent in 2022. ATM se nasionale woordvoerder, Zama Tshona, sê verslae toon sowat 1,2-miljoen leerders het in 2012 ingeskryf, maar slegs 572-duisend-983 het geslaag, en dit is 52-persent van die oorspronklike syfer:
Die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, sê intussen die merkwaardige 2023-matriekuitslae toon nie net leerders se individuele prestasie nie, maar ook die kollektiewe toewyding aan uitnemendheid in die provinsie se onderwysstelsel. Die Vrystaat is volgens sy matriekslaagsyfer van 89-persent die provinsie wat die beste presteer het. Sy slaagsyfer is 0,5 persentasiepunte hoër as in 2022. Die LUR vir Onderwys, Makalo Mohale, sê hy is trots daarop dat die provinsie sy eerste plek kon behou:
# Die Oos-Kaapse polisie het bevestig die saak teen elf verdagtes wat in verband met die taxigeweld in Port St Johns vasgetrek is, was weens gebrek aan bewyse nie op die hofrol nie en die verdagtes is vrygelaat. Drie mense is dood en ses beseer toe twee taxiverenigings Dinsdag by die plaaslike taxistaanplek op mekaar losgebrand het. Die polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sê die verdagtes is aangekla van onder meer moord, poging tot moord en die afvuur van vuurwapens in ‘n beboude gebied:
# Die eerste minster van Israel, Benjamin Netanyahu, is steeds gekant teen die skepping van ‘n Palestynse staat as deel van ‘n na-oorlogse scenario en sê dit sal sy land se veiligheid in gedrang bring. Die VSA en Australië hou vol dat ‘n tweestaatoplossing die enigste haalbare plan vir blywende vrede in die gebied is. Netanyahu sê Israel móét beheer hê oor die veiligheid van die hele streek wes van die Jordaanrivier, wat die grondgebied van enige moontlike Palestynse staat insluit. Die Withuis het daarop gesê die Amerikaanse regering sal nie ophou om hom vir ‘n tweestaat-oplossing te beywer nie.
# Tennis: Verlede jaar se naaswenner van die Australiese Ope, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, het ‘n watertandlekker kragmeting met die Amerikaner Taylor Fritz in die vierde ronde verseker. Hy het Luca van Assche van Frankryk in skoon stelle, verslaan, terwyl Fritz die Hongaar Fabian Marozsan geklop het. Die Italianer Jannik Sinner het sy derde oorwinning in skoon stelle behaal, oor die Argentyn Sebastian Baez, en die derde agtereenvolgende jaar na die laaste sestien deurgedring. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, maklik afgereken met Lesia Tsurenko van Oekraïne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-475-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-24-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….