Nuus 13:00
BULLETIN 13 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beskryf infrastruktuur as ‘n enjin vir gelykheid
# Boeing word gelas om meer as 485-miljoen-rand te betaal aan die gesin van ‘n vliegramp-slagoffer
# En rugby: Twee jong Springbokke verleng hulle kontrakte met die Bulle
# President Cyril Ramaphosa sê infrastruktuur gee mense die grondslag om te floreer. Hy het gepraat op die tweede Nasionale Bouberaad in Boksburg, Gauteng. Ramaphosa sê gehalte-infrastruktuur verhoog produktiwiteit, verlaag lewenskoste en vuur belegging aan. Hy voer aan die boubedryf kan gemeenskappe hervorm deur werk te skep en dienste te verbeter. Ramaphosa voeg by dat Suid-Afrika se boubedryf aan die herstel en gereed is om weereens die land se ekonomie aan te dryf:
# Die Tesourie se Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring handhaaf Suid-Afrika se skuld-tot-bruto binnelandse produk-verhouding vir 2025, wat ‘n geleidelike afname voorspel en fiskale konsolidasie versterk. Die hoof van makro-ekonomiese navorsing by Standard Bank, Elna Moolman, sê inkomste het met byna 20-miljard-rand verhoog, met ekstra toekennings vir infrastruktuur, rampverligting en sleutelagentskappe, verreken deur besparings weens laer inflasie en onderbesteding. Sy sê kredietpositiewe faktore, swak groei en diskresionêre besteding beteken dat opgraderings van die soewereine graderings waarskynlik eers volgende jaar sal plaasvind.
# Die DA eis aanspreeklikheid oor hoe 17 Suid-Afrikaanse mans met werk-beloftes gelok is om by huursoldaatmagte aan te sluit in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Die mans was blykbaar onder die indruk hulle gaan wettige opleiding kry of sekerheidswerk doen, maar is gedwing om vir Rusland te veg in die Donbas-streek in Oekraïne. Chris Hattingh van die DA sê die Staatsveiligheidsagentskap en Verdediging-intelligensie moet verduidelik hoe hierdie werwings in Suid-Afrika kon plaasvind sonder om bespeur te word:
# ‘n Federale jurie in Chicago het die Amerikaanse vliegtuig-vervaardiger Boeing gelas om 478-miljoen-rand te betaal aan die gesin van ‘n omgewingswerker van die Verenigde Nasies wat dood is toe ‘n 737 MAX in 2019 in Ethiopië neergestort het. Die skadevergoeding aan Shikha Garg se gesin is die eerste van tientalle eise wat ingedien is na die ramp en een in Indonesië die vorige jaar waarin altesaam 346 mense dood is. Boeing sê hy is baie jammer vir almal wat geliefdes verloor het op die twee vlugte.
# Rugby: Twee Springbokke, die 23-jarige agsteman Cameron Hanekom en die 24-jarige stut en haker Jan-Hendrik Wessels, het hul kontrakte met die Bulle verleng. Hulle sal nou tot die einde van 2028 se seisoen vir die Pretoriase unie speel. Hanekom en Wessels word beskou as invloedryke toetsspelers van die toekoms. Uitvoerende hoof Edgar Rathbone sê hulle roem daarop dat hulle ‘n klub is waar kampioene gemaak word, en die twee spelers se besluit om langer te bly, is ʼn groot mosie van vertroue in die Bulle-familie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-123-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-232-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….