Nuus 12:00
BULLETIN 13 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum gaan volgende jaar die Onteieningswet in die hof betwis
# Trump onderteken die befondsingswetsontwerp en beëindig die Amerikaanse regeringsluiting formeel
# En Boeing word gelas om meer as 485-miljoen-rand te betaal aan die gesin van ‘n vliegramp-slagoffer
# AfriForum sê adjunkpresident Paul Mashatile het herbevestig dat die ANC steeds verbind is tot onteiening sonder vergoeding, ‘n beleid wat tydens die party se konferensie in 2017 aanvaar is. Ernst van Zyl van AfriForum sê die Onteieningswet, wat deur president Cyril Ramaphosa onderteken is, stel die regering in staat om voort te gaan ondanks die Parlement se versuim om Artikel 25 van die Grondwet te wysig. Van Zyl waarsku dat eiendomsregte bedreig word en het planne bevestig om die wet volgende jaar in die hof te betwis.
Die leier van die EFF, Julius Malema, sê intussen AfriForum en Solidariteit moet vervolg word vir bedrywighede wat die land se soewereiniteit ondermyn het. Die drukgroepe het ‘n sigbare, strategiese rol gespeel om Amerikaanse sienings van Suid-Afrika se grondonteienings-beleid, gesprekke oor minderheidsregte en Afrikaner-voorspraak te vorm. Malema sê Suid-Afrika moet nooit in gedrang gebring word deur die rassistiese belange van klein minderheidsgroepe nie:
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het intussen die korttermyn-regeringsbefondsings-wetsontwerp onderteken wat ‘n einde bring aan die langste regeringsluiting in die geskiedenis. Dit volg nadat die Huis van Verteenwoordigers die wetsontwerp met 222 teen 209 stemme goedgekeur het in ‘n ooreenkoms wat gisteraand tussen Republikeine en gematigde Demokrate gesluit is – twee dae nadat die Senaat dit goedgekeur het. Trump het in die Ovaalkantoor gesê dis ‘n oorwinning oor die Demokrate, en bygevoeg dat hulle nooit voor afpersing sal swig nie:
# ‘n Federale jurie in Chicago het die Amerikaanse vliegtuig-vervaardiger Boeing gelas om 478-miljoen-rand te betaal aan die gesin van ‘n omgewingswerker van die Verenigde Nasies wat dood is toe ‘n 737 MAX in 2019 in Ethiopië neergestort het. Die skadevergoeding aan Shikha Garg se gesin is die eerste van tientalle eise wat ingedien is na die ramp en een in Indonesië die vorige jaar waarin altesaam 346 mense dood is. Boeing sê hy is baie jammer vir almal wat geliefdes verloor het op die twee vlugte.
# Rugby: Die waarnemende hoofafrigter van die Springbok-vrouesewespan, Cecil Afrika, sê hy het vertroue in die spelers wat hy gekies het vir die naweek se Afrikabekertoernooi in Kenia. Suid-Afrika is in Groep A saam met Zambië, Ghana en Egipte, en moet onder die top-twee eindig om op koers te bly om vir die Sewes-uitdaagreeks te kwalifiseer. Nadine Roos is kaptein van die groep van 12. Afrika sê hulle is in beheer van hul eie lot en gereed vir die uitdaging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-648-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-236-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….