Nuus 09:00
BULLETIN 13 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die dapper stappe wat in die begroting geneem is, is bemoedigend
# Minister Mchunu se pesoneelhoof gaan vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig
# En Venezuela mobiliseer sy magte met die aankoms van Amerika se grootste oorlogskip in die streek
# Die Vryheidsfront Plus sê die mediumtermynbegroting voldoen aan verskeie belangrike verwagtinge ten spyte van moeilike en beperkende omstandighede. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana het dit Woensdag in die Parlement ter tafel gelê. Heloïse Denner van die VF Plus sê een van die belangrike ontwikkelings is die inflasie-teiken wat tot drie-persent aangepas is. Volgens haar moedig dit mededinging aan, verminder die skuldlas en bevorder bestendigheid, maar dit sal sterk fiskale dissipline vereis om volhoubaar te wees:
# Tax Justice South Africa sê die regering moet deurdruk moet kriminele vervolgings soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat die lisensies van drie sigaretvervaardigers opgeskort het. Die minister van Finansies Enoch Godongwana het die stap Woensdag in sy mediumtermyn-begrotingsrede in die Parlement aangekondig. Die stigter van Tax Justice SA, Yusuf Abramjee, sê hulle verwelkom die regering se sterker optrede teen misdadigers wat die land jaarliks van 28-miljard-rand aan aksynsbelasting net op tabak beroof:
# Die parlementêre ad hoc-komitee sal vandag getuienis aanhoor van die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se personeelhoof, Cedrick Nkabinde. Die komitee ondersoek bewerings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Hy beskuldig Nkabinde dat hy betrokke was by pogings om die polisie se onafhanklikheid te ondermyn, en onder meer briewe namens Mchunu sonder sy medewete onderteken het. Nkabinde het verlede maand beweer hy is ‘n teiken nadat wetstoepassingsbeamptes ʼn klopjag op sy huis uitgevoer en glo sy broer aangerand het.
# Die minister van Verdediging van Venezuela, Vladimir Padrino López, sê hulle begin met grootskaalse mobilisering van personeel, wapens en toerusting. Dit volg op die aankoms van Amerika se grootste oorlogskip Dinsdag in die Karibiese Eilande. Padrino López het die ontplooiing beskryf as ‘n reaksie teen die imperialistiese bedreiging van die Amerikaanse oorlogskepe en soldate in die Karibiese See. Amerika het al 19 aanvalle teen bote uitgevoer wat verdink is van die vervoer van dwelmmiddels in die Karibiese Eilande en die oostelike Stille Oseaan. Ten minste 76 mense is in die aanvalle dood.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê voormalige spelers is verby hulle beste, na hulle kritiek oor Engeland se voorbereidings vir vanjaar se reeks om die As teen Australië, wat volgende Vrydag in Perth begin. Die besoekers speel van vandag af ‘n enkele driedaagse opwarmingswedstryd teen die toerspan van die Engelse Leeus in die Wes-Australiese stad. Stokes het gereageer op kritiek deur voormalige kapteins Ian Botham, Michael Vaughan en Graham Gooch en sê dit grens aan arrogansie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-966-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-209-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….