Nuus 08:00
BULLETIN 13 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen verwerp berigte van eksterne druk om minister George te verwyder
# Die ANC sê die begroting bied ‘n positiewe padkaart vir die ekonomie
# En die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers keur die befondsingswetsontwerp goed om die afsluiting te beëindig
# Die DA-leier John Steenhuisen verwerp mediaberigte dat die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, afgedank is weens eksterne druk en belange. President Cyril Ramaphosa het George verwyder en met Willie Aucamp vervang. Alexandra Lilian Amelia Abrahams van die DA is die nuwe adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging. Die DA-woordvoerder, Karabo Khakhau, sê die party het 12 poste in die nasionale uitvoerende gesag en hierdie poste moet deur die mees bevoegde mense gevul word:
# Die ANC sê die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring bewys dat fiskale dissipline en maatskaplike geregtigheid onder sy leierskap kan saambestaan. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die begroting gister aan die Parlement voorgelê waar hy ‘n nuwe inflasieteiken van drie-persent met ʼn weerstandsband van een persentasiepunt aangekondig het. Die ANC sê hy verwelkom veral die toekenning van 943-miljard-rand oor die volgende drie jaar vir infrastruktuurbelegging. Die party sê Godongwana het ʼn positiewe padkaart vir die ekonomie voorgestel maar baie moet nog gedoen word.
# In teenstelling met die ANC se mening, kritiseer TLU SA die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring omdat dit fiskale syfers aanspreek, maar nie Suid-Afrika se dieper probleme aanpak nie. Bennie van Zyl van die organisasie sê misleide beleid, ondermynde eiendomsregte, politieke aanstellings bo kundigheid, en institusionele verval, bly onaangespreek. Van Zyl sê alhoewel daar skuldstabilisering en infrastruktuurplanne is, meen TLU SA dat volhoubare groei afhang van duidelike beleid, verantwoordbaarheid, vryemarkbeginsels en bekwame, en die kundige bestuur van staatsinstellings:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het gestem om die langste regeringsafsluiting in die land se geskiedenis te beëindig deur ʼn korttermyn-regeringsbefondsingswetsontwerp te aanvaar. Dis met 222 teenoor 209 aanvaar, met ses Demokrate wat saam met die Republikeine daarvoor gestem het. Die wetsontwerp is aan president Donald Trump gestuur om onderteken te word en die regeringsluiting van 43 dae te beëindig. Die Huis-speaker, Mike Johnson, sê kiesers sal onthou watter politieke party speletjies met hul lewens gespeel het:
# Tennis: Die verdedigende kampioen Jannik Sinner het sy plek bespreek onder die laaste vier van die ATP-jaareindtoernooi in Turyn. Die Italianer het Alexander Zverev van Duitsland geklop en sy seges op binnenshuise harde bane tot 28 uitgebrei. Sinner staan steeds ʼn kans om die jaar as nommer een af te sluit, maar moet sy titel verdedig en hoop Carlos Alcaraz wen nie nog ʼn wedstryd nie. Felix Auger-Aliassime van Kanada het intussen sy eerste oorwinning by die jaareindtoernooi behaal toe hy met die Amerikaner Ben Shelton afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-736-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-204-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….