Nuus 07:00
BULLETIN 13 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa dank minister Dion George af tydens kabinetskommeling
# BOSA sê fiskale dissipline vereis die bou van staatsvermoë
# En dit was een van die natste Oktobers in die land in meer as 30 jaar
# President Cyril Ramaphosa het veranderinge aan sy kabinet aangebring. Hy het die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, afgedank en met die DA se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp, vervang. Volgens berigte het die DA-leier, John Steenhuisen, Ramaphosa gevra om George af te dank en klagtes oor onderprestasie aangevoer. Die president het ook Alexandra Lilian Amelia Abrahams van die DA as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging in die plek van Andrew Whitfield aangestel. Ramaphosa het Whitfield in Junie afgedank ná ‘n ongemagtigde reis na Amerika.
# Build One South Africa sê die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring hanteer nie die dieper hervormings wat nodig is om op betekenisvolle wyse vyf-persent ekonomiese groei te bereik en werk te skep nie. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ʼn nuwe inflasieteiken van drie-persent vir Suid-Afrika aangekondig om die vorige een van tussen drie- en ses-persent te vervang. BOSA se leier, Mmusi Maimane, sê bykomende fondse vir misdaadvoorkoming en polisiëring word egter glad nie genoem nie:
# Die Vryheidsfront Plus veroordeel die Johannesburg Metro se selektiewe infrastruktuuropgraderings voor die G20-beraad as ‘n belediging vir belastingbetalers. Franco de Lange van die party sê terwyl wêreldleiers ‘n gepoleerde beeld sien, leef inwoners steeds met slaggate, stukkende ligte en swak dienste saam. De Lange voeg by as die stad paaie oornag vir buitelandse gaste kan regmaak, hy dieselfde vir burgers kan doen:
# Die Amerikaanse Huis se oorsigkomitee het 20-duisend bladsye van die veroordeelde seksoortreder, Jeffrey Epstein, se boedel ontvang. In die e-posse verwys Epstein na president Donald Trump as die “hond wat nie geblaf het nie” en vertel sy gewese vriendin, Ghislaine Maxwell, dat ʼn vermeende slagoffer ure by sy huis met Trump deurgebring het. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê die Demokrate op die komitee het selektief e-posse aan die liberale media gelek om ʼn vals narratief oor Trump te skep en die aandag van sy geskiedkundige prestasies af te trek.
# Krieket: Die Suid-Afrikaners, Senuran Muthusamy en Laura Wolvaardt, is onderskeidelik aangewys as die Internasionale Krieketraad se mans- en vrouespeler van die maand vir Oktober. Muthusamy is vereer vir sy briljante prestasie met die kolf en die bal tydens die Proteas se reeks van twee toetse in Pakistan. Die 31-jarige speler het 106 lopies behaal en elf paaltjies laat kantel. Wolvaardt het die Protea-vroue na die Eendagreeks-wêreldbeker se eindstryd gelei. By die Wêreldbeker het sy 470 lopies aangeteken, en in die halfeindronde gespog met drie vyftigtalle en ʼn honderdtal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-209-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-188-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dele van Suid-Afrika het die natste Oktobermaand in 31 jaar beleef, met verskeie gebiede wat ver bo die gemiddelde reënval ontvang het. Meteoroloog Andre Fourie sê sommige stasies het meer as vier keer hul tipiese Oktober-syfers aangeteken, terwyl ander hul natste Oktober in meer as drie dekades aangeteken het. Alhoewel sommige streke minder as normale reënval gesien het, beklemtoon gelokaliseerde uiterstes beduidende wisselvalligheid reg oor die land aan die begin van die somerreënseisoen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….