Nuus 18:00
BULLETIN 12 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA steun die nuwe drie-persent-inflasieteiken vir fiskale en monetêre sekerheid
# Die MK-party veroordeel die begroting as verraad teen armes, nie hervorming nie
# En, minstens 42 migrante word vermis en is vermoedelik dood na ‘n rubberboot langs die Libiese kus omslaan
# Die DA verwelkom die nuwe drie-persent-inflasieteiken wat in die vyfde mediumtermyn-begrotingsverklaring deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana, aangekondig is. Die party sê die stap bied fiskale en monetêre sekerheid, wat huishoudings en besighede help om vir die toekoms te beplan. Mark Burke van die DA waarsku egter dat stadige groei in die bruto binnelandse produk en stadige hervormings by Eskom en Transnet steeds kommer vir Suid-Afrika se ekonomie veroorsaak:
# Die MK-party sê intussen die begroting spreek nie Suid-Afrika se dringendste kwessies soos werkloosheid, ongelykheid, armoede en die grondkwessie, aan nie. Die party kritiseer die Nasionale Tesourie se bruto binnelandse produkprojeksies as ooroptimisties en waarsku huidige bestedingsprioriteite bevoordeel skuldterugbetaling bo die behoeftes van die armes. MK-woordvoerder Nhlamulo Ndhlela verwerp die begroting as ‘n voortsetting van ekonomiese apartheid en belowe om te veg vir ‘n mensgesentreerde, ontwikkelingsgerigte fiskale model:
# Die voormalige Malawiese president, Bakili Muluzi, het sy bemiddelingspan onttrek aan pogings om die geskil te besleg tussen die Zambiese regering en die familie van wyle oudpresident Edgar Lungu. Die familie wil ‘n privaat begrafnis in Suid-Afrika hê waar hy in Junie in ‘n hospitaal dood is na ‘n hartaanval. Die Zambiese regering dring aan op ‘n staatsbegrafnis in sy geboorteland. Die Hooggeregshof in Pretoria het vroeër ten gunste van repatriasie beslis en Muluzi sê geen beslissende oplossing is bereik nie. Lungu se liggaam is steeds in Suid-Afrika.
# Die Internasionale Organisasie vir Migrasie berig dat minstens 42 migrante vermis word en vermoedelik dood is nadat ‘n rubberboot langs die kus van Libië omgeslaan het. Libiese owerhede het sewe oorlewendes gered wat ses dae lank op die see gedryf het nadat die vaartuig, met 49 mense aan boord, naby die Al Buri-olieveld gesink het. Die boot het op 3 November vanaf Zuwara in Libië vertrek. Die oorlewendes is van Soedan, Nigerië en Kameroen. Die soektog na meer moontlike oorlewendes duur voort.
# Gholf: Die DP World-toer het die Rory McIlroy-toekenning geskep wat jaarliks toegeken sal word vir uitnemendheid in major-toernooie. Die speler van Noord-Ierland het in April die eerste Europeër geword om die loopbaan-Grand Slam te haal toe hy die Amerikaanse Meesterstoernooi gewen het. Die toekenning, wat volgende jaar ingestel word, sal uitgeloof word aan die DP World-toerdeelnemer wat die beste vaar in die vier majors in ‘n kalenderjaar. McIlroy sê dis ‘n reuse-eer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-768-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-133-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….