Nuus 17:00
BULLETIN 12 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Enoch Godongwana dui maatreëls aan om onwettige handel te takel en openbare inkomste te verhoog
# Die EFF verwerp Godongwana se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring
# En, die ANC verwelkom die daling in die werkloosheidsyfer
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die regering verskerp pogings om onwettige handel te beveg, belastinginvordering te verbeter en die staatsdiens te moderniseer. In sy vyfde mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring in die parlement het Godongwana gesê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Finansiële Intelligensiesentrum teiken onwettige markte vir sigarette, alkohol, brandstof en verkrygingsbedrog, wat die staat miljarde-rande per jaar kos. Hy het bygevoeg die staatsdiens word skoongemaak om spookwerkers te verwyder:
Die EFF het intussen Godongwana, se begroting verwerp. Die partyleier, Julius Malema, het dit gekritiseer omdat dit nie werkloosheid, onderbefondsing van die polisiëring en die weermag, verswakkende infrastruktuur en oormatige afhanklikheid van beleggings in die privaatsektor aanspreek nie. Malema het ook gewaarsku dat stygende inkomste sonder sterker anti-korrupsiemaatreëls nie werkersklas-Suid-Afrikaners sal bevoordeel nie:
# Die ANC sê die regering maak vordering met werkloosheid, wat tussen Julie en September tot 31,9-persent gedaal het. Statistieke Suid-Afrika se jongste data dui aan dat meer as 248-duisend nuwe werksgeleenthede geskep is, die hoogste van voor die Covid-19-pandemie. Die party glo sy tienpuntplan werk om die ekonomie te laat groei. Die ANC se waarnemende woordvoerder, Nonceba Mhlauli, sê te veel Suid-Afrikaners bly werkloos, en moedig die regering, sakeondernemings en vakbonde aan om pogings te verskerp om die ekonomie te laat groei en bestaande werksgeleenthede te beskerm.
# Turkye het aangekondig dat 20 van sy soldate dood is toe ‘n militêre vragvliegtuig gister in Georgië neergestort het. Dit is die NAVO-lidland se dodelikste militêre voorval sedert 2020. Die C-130-vragvliegtuig was onderweg van Azerbeidjan na Turkye toe dit in Georgië neergestort het, met stukke verwronge metaal op die ramptoneel. Ankara het nie die oorsaak van die ongeluk aangedui nie, maar sê Turkse en Georgiese owerhede het begin met ‘n ondersoek op die terrein in die Kakheti-distrik.
# Sokker: Die Portugese doelskieter Cristiano Ronaldo sê volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Kanada, Mexiko en Amerika is beslis sy laaste. Die 40-jarige, wat in Saoedi-Arabië vir Al-Nassr speel, het 953 doele vir sy klubs en land aangeteken en is die eerste manlike speler ooit wat doele aangeteken het in vyf Wêreldbekertoernooie. Ronaldo het in ‘n onderhoud op die Toerismeberaad in Riaad gesê dis spesiaal om die geleentheid te hê om in sy sesde Wêreldbekertoernooi te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-968-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-127-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….