Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-slot Lood de Jager gaan die res van die jaareindtoer misloop nadat hy vir vier wedstryde geskors is. Dit volg op sy rooikaart vir ʼn skouer-stamp teen die Franse heelagter, Thomas Ramos, in die Bokke se oorwinning van 32-17 in Parys. ʼn Onafhanklike tugkomitee het die beslissing van ‘n permanente rooikaart bekragtig. De Jager sal die Springbokke se toetse teen Italië, Ierland en Wallis misloop, asook sy klub, Wild Knights, se Japanese Liga Een-wedstryd teen Brave Lupus volgende maand.
Nog rugbynuus: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het sewe veranderings aangebring aan die span vir Saterdag se kragmeting met Nieu-Seeland op Twickenham. Kaptein Maro Itoje, George Ford, Jamie George, Freddie Steward, Tom Roebuck, Fin Baxter en Sam Underhill is almal terug in die opdrafspan nadat hulle verlede naweek op die kantlyn was tydens die sege van 38-18 oor Fidji. Borthwick het besluit op ʼn verdeling van 6-2 op die bank, met Chandler Cunningham-South, Tom Curry en Henry Pollock onder die versterkings. Ollie Chessum en Tommy Freeman is uit weens beserings.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc hoop op bouler-vriendelike kolfblaaie in die reeks om die As teen Engeland, wat die 21ste in Perth begin. Hy het baanbeamptes gevra om nie mak oppervlaktes voor te berei in ‘n poging om wedstryde na vyf dae te verleng nie, want dit sal die Engelse aanval pas. Starc sê dit sal ‘n probleem wees as die fokus eerder op inkomste as op gehalte is. Die volgende drie toetse word in Brisbane, Adelaide en Melbourne gespeel. Die laaste begin op 4 Januarie in Sydney.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het sy tweede agtereenvolgende sege behaal in die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, Italië. Die Spanjaard het die Amerikaner Taylor Fritz geklop. Hy sal na die halfeindronde deurdring en die jaar boaan die wêreldranglys afsluit indien hy môre met die Italianer Lorenzo Musetti afreken. Nog ‘n plaaslike speler, Jannik Sinner, moet sy titel verdedig en hoop Alcaraz verloor teen Musetti en haal nie die eindstryd nie sodat hy nommer-een kan word. Musetti het gister die Australiër Alex de Minaur verslaan.
# En ten slotte, motorsport: Die uitvoerende en spanhoof, Toto Wolff, onderhandel glo om ʼn deel van sy aandeel in Mercedes se Formule Een-span te verkoop. Die ooreenkoms waardeer Mercedes op ʼn rekord-bedrag van 104-miljard-rand. Wolff besit ‘n derde van die span. Hy beplan volgens berigte om ʼn buite-belegger te nader wat ʼn aandeel van sowat vyf-persent sal koop terwyl die 53-jarige Wolff in sy rolle aanbly. Mercedes het van 2014 tot 2021 agt agtereenvolgende vervaardigerstitels gewen en is vanjaar tweede ná 21 wedrenne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….