Nuus 09:00
BULLETIN 12 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom die verbetering in Suid-Afrika se werkloosheidsyfer
# ActionSA verwelkom die skorsing van die adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie
# En Amerikaanse vlugkansellasies en vertragings kan vererger
# Die regering het die resultate van die derde Kwartaallikse Arbeidsmagopname vir 2025 verwelkom. Suid-Afrika se werkloosheidsyfer het met 1,3-persentasiepunte in die derde kwartaal van die jaar gedaal tot 31,9-persent vanaf 33,2-persent in die tweede kwartaal. Volgens die opname het werkende persone met 248-duisend toegeneem tot 17,1 miljoen. Die adjunkwoordvoerder van die regering, William Baloyi, sê hierdie syfers is positief vir die ekonomie:
Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê intussen hy is bemoedig dat die bousektor ‘n rol begin speel om betekenisvol werk en geleenthede vir Suid-Afrikaners te bied. Volgens die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname is 130-duisend nuwe werksgeleenthede in die bousektor in die derde kwartaal van 2025 geskep. Dit verteenwoordig byna die helfte van die nuwe werksgeleenthede in die land. Macpherson sê met die hervormings wat met die Suid-Afrikaanse Bou-aksieplan ingestel word, sal die bedryf selfs meer tot werkskepping bydra.
# ActionSA verwelkom die skorsing van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement se adjunkhoof, Julius Mkhwanazi. Hy is by die Madlanga-ondersoekkommissie beskuldig dat hy na bewering Vusimuzi “Cat” Matlala se insypeling by die departement moontlik gemaak het. Hy het volgens berigte bedrieglike memorandums van verstandhouding met Matlala se sekuriteitsmaatskappy aangegaan. Tumelo Tshabalala van ActionSA sê die Madlanga-kommissie bevestig die party se voortgesette stryd teen ongebreidelde korrupsie in die metro:
# Die Amerikaanse minister van Vervoer, Sean Duffy, sê vlugontwrigtings kan aansienlik vererger, en lugdienste kan vlugte afskaf as die regering ingeperk bly. Die Federale Lugvaartadministrasie het gister die verpligte besnoeiings aan vlugte by 40 van die land se grootste lughawens tot ses-persent verhoog, wat gelei het tot die kansellasie van meer as een-duisend-200 vlugte. Die Senaat het Maandag die Korttermyn-befondsingswetsontwerp aanvaar om die regering te heropen, maar dit moet nog deur die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur word. Duffy sê teen môre sal agt-persent van vlugte gesny word:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het twee agtereenvolgende seges behaal by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, Italië. Die Spanjaard het die Amerikaner, Taylor Fritz, geklop. Alcaraz sal sy plek in die halfeindronde en die eerste plek beklink indien hy môre met die Italianer, Italian Lorenzo Musetti, afreken. Sy teenstander, Jannik Sinner, moet sy titel verdedig en hoop Alcaraz verloor teen Musetti en haal nie die eindronde nie, sodat hy nommer een kan word. Musetti het die Australiër, Alex de Minaur, met 7-5, 3-6, 7-5 verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-240-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-109-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….