Nuus 18:00
BULLETIN 11 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema striem Shamila Batohi vir die weerhouding van beskuldigde NVG-aanklaer se naam
# BOSA vra 2-miljard-rand BBP-beskermingbegroting moet vir onderwysers, verpleegsters en polisie aangewend word
# En, OUTA sê die vertraging van die padverkeer-boetestelsel ontbloot die administratiewe chaos binne die regering
# Die leier van die EFF, Julius Malema, het die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, gekritiseer omdat sy weier om te sê wie die aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag is wat by georganiseerde misdaad betrek word. Batohi het aan die parlementêre ad hoc-komitee oor polisie-korrupsie gesê ondersoeke is aan die gang, maar wou nie die persoon se identiteit verklap nie. Malema sê ‘n korrupte NVG bedreig die Grondwet, en hou vol Batohi moet bedank as sy nie name kan gee nie:
# Build One South Africa versoek die regering om die begroting van twee-miljard-rand vir BBP-beskerming van politici te skrap en dit te gebruik om meer onderwysers, verpleegsters en polisielede aan te stel. BOSA-woordvoerder, Roger Solomons, waarsku voor môre se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring dat Suid-Afrika stadige groei, hoë skuld en erger werkloosheid veral onder jongmense gaan beleef. Hy sê frontliniedienste kan nie verdere besnoeiings hanteer nie en vra vir ‘n einde aan politieke luukses.
# Die Organisasie teen belastingmisbruik, sê die regering se besluit om die boetestelsel vir die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe tot Julie volgende jaar uit te stel, toon dat die werklike probleem nie motoriste is nie, maar chaos binne die staat. Munisipaliteite wil onttrek omdat die stelsel duur en ondoeltreffend is. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, sê die stelsel was nog nooit gereed nie en bly onwerkbaar, met nuwe regulasies wat sonder behoorlike konsultasie deurgevoer word en selfs onleesbare gedeeltes bevat:
# Taiwan het vandag meer as drie-duisend mense ontruim en ‘n waarskuwing uitgereik vir die aankoms van tifoon Fung-wong. Die storm sal na verwagting swaar reën oor die land se bergagtige ooskus bring, wat onlangs deur ‘n ander tifoon geteister is. Fung-wong, wat geleidelik verswak, sal na verwagting Woensdag die eiland se suidwestelike kus rondom die hoofhawe van Kaohsiung tref. Agtien mense is dood toe tifoon die Filippyne as ‘n veel sterker storm getref het. Die land se president Lai Ching-te het spoor mense aan om weg te bly van die berge, die kus en ander moornlike gevaargebiede.
# Motorsport: Die MotoGP-seisoen word hierdie naweek afgesluit op die Circuit Ricardo Tormo in Valencia, Spanje. Die plaaslike jaer Marc Márquez het reeds die bestuurders-kampioenskap ingepalm met sy jonger broer en Ducati-spanmaat, Álex, in die tweede plek. Die fokus verskuif nou na die stryd om die derde plek. Die Italianer Marco Bezzecchi het ‘n skrale puntevoorsprong bo sy landgenoot Francesco Bagnaia. Dit beteken die uitslag van die wedren sal bepaal watter jaer vanjaar derde eindig. Die kampioenskap keer die naweek na ‘n afwesigheid terug na die baan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-445-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-137-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….