Nuus 17:00
BULLETIN 11 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi bevestig ‘n poging om die NVG te infiltreer
# EMPD-adjunkhoof Julius Mkhwanazi word met onmiddelike ingang geskors
# En, OUTA sê vertraging van padverkeer-boetestelsel ontbloot administratiewe chaos binne die regering
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het bevestig dat sy vertroulike intelligensie ontvang het oor pogings om die Nasionale Vervolgingsgesag te infiltreer. Batohi het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig dat sy die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, en president Cyril Ramaphosa ingelig het nadat sy deur ‘n intelligensie-agentskap gewaarsku is. Sy het beklemtoon dat die meeste aanklaers toegewy is aan die oppergesag van die reg, maar sê ‘n aanklaer wat verdink word, is hangende ‘n ondersoek geskors:
# Die adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, is met onmiddelike ingang geskors. Dit volg op verskeie getuienisse voor die Madlanga-kommissie wat Mkhwanazi verbind met beweerde korrupte transaksies. Dit sluit in die magtiging van blouligvoorregte vir die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en die toekenning van tenders sonder die voorgeskrewe prosesse.
# Die Organisasie teen belastingmisbruik, sê die regering se besluit om die boetestelsel vir die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe tot Julie volgende jaar uit te stel, toon dat die werklike probleem nie motoriste is nie, maar chaos binne die staat. Munisipaliteite wil onttrek omdat die stelsel duur en ondoeltreffend is. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, sê die stelsel was nog nooit gereed nie en bly onwerkbaar, met nuwe regulasies wat sonder behoorlike konsultasie deurgevoer word en selfs onleesbare gedeeltes bevat:
# ‘n Wetsontwerp wat die doodstraf vir terroriste voorstel, het die eerste stemming in Israel se Parlement geslaag. Dit kan van toepassing wees op Palestyne wat skuldig bevind is aan dodelike aanvalle op Israelse burgers. Dit is geëis deur die verregse minister van Nasionale Veiligheid, Itamar Ben Gvir, en deur die Nasionale Veiligheidskomitee goedgekeur. Dit is met 39 stemme teen 16 deurgevoer en moet ‘n tweede en derde stemming slaag voor dit wet word. Die komitee sê die wetsontwerp moet terrorisme by sy oorsprong keer en ‘n sterk afskrikmiddel skep.
# Krieket: Kenners sê Suid-Afrika staan voor ‘n groot uitdaging wanneer hulle Indië in twee toetse aandurf in die volgende deel van die verdediging van hul Wêreldtoetskampioenskaps-titel. Die Proteas het net drie volle dae om voor te berei vir die eerste wedstryd wat Vrydag op Eden Gardens in Kolkata begin. Die span se vorige veldtogte is egter gekenmerk deur hulle vermoë om goeie toetskrieket te speel sonder opwarmings-wedstryde. Kaptein Temba Bavuma is terug in die span nadat hy die onlangse reeks teen Pakistan weens ‘n kuitbesering misgeloop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-569-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-139-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….