Nuus 11:00
BULLETIN 11 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile beantwoord mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering
# Biovac se mondelinge cholera-entstof betree fase 1 kliniese toetse
# En Interpol koördineer die oorhandiging van die Ndimande-broers om tereg te staan vir AKA se moord
# Adjunkpresident Paul Mashatile beantwoord vanmiddag vrae in die Nasionale Vergadering ooreenkomstig ‘n grondwetlike mandaat vir kabinetslede. Hy sal as voorsitter van die regering van nasionale eenheid se geskiloplossingsmeganisme terugvoering gee oor onlangs-aanvaarde opdragte en planne om verskille in die koalisieregering op te los. Mashatile sal ook vrae hanteer oor nasionale veiligheid, grondhervormingsprogramme en die distriksontwikkelingsmodel om dienslewering te versnel en te verbeter.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, en die adjunkminister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Nomalungelo Gina, lei vandag die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste plaaslik-vervaardigde entstof in meer as 50 jaar. Die geskiedkundige gebeurtenis by die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal in Johannesburg dui die begin aan van fase een kliniese toetse vir Biovac se mondelinge cholera-entstof. Gesondheid se woordvoerder, Foster Mohale, sê die toetse, gekoördineer deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, is daarop gemik om die entstof se doeltreffendheid te bepaal:
# Die broers Siyabonga en Malusi Ndimande, wat beskuldig word van die moord op die musikant AKA Forbes en sy vriend Tebello Motsoane in Durban in 2023, sal na verwagting vandag deur Eswatini aan Suid-Afrika uitgelewer word om tereg te staan. Dit volg nadat die regering verlede week die uitleweringsbevel van Eswatini ontvang het. Die twee sal by vyf ander beskuldigdes in die beskuldigdebank aansluit wat teregstaan op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Interpol koördineer die oorhandiging aan die Suid-Afrikaanse owerhede.
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers beplan om reeds môre oor die Senaat-goedgekeurde korttermyn-regeringsbefondsingswetsontwerp te stem, sodat president Donald Trump dit in werking kan stel. Die wetsontwerp, wat befondsing vir sommige regeringsagentskappe vir die res van die fiskale jaar sal verskaf, is met ‘n 60-40-stemverdeling in die Senaat aanvaar. Byna al die Republikeine het by agt Demokrate aangesluit om die wetsontwerp goed te keur. Die minderheidsleier in die Huis, Hakeem Jeffries, sê hulle sal aanhou veg om die subsidies van die Wet op Bekostigbare Sorg verleng te kry:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy hoop op ʼn oortuigende oorwinning oor Zambië omdat hy hul plek op die FIFA-ranglys wil verbeter. Saterdag se internasionale vriendskaplike wedstryd in Gqeberha is deel van Suid-Afrika se voorbereiding vir die Afrikabekertoernooi wat volgende maand in Marokko begin. Bafana Bafana is in Groep B met die sewemalige wenners en rekordhouer Egipte, Angola en Zimbabwe. Broos sê sy spelers moet dieselfde fokus en mentaliteit hê wat hulle in die Wêreldbeker-kwalifiseerwedstryde gehad het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-138-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-130-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….