Nuus 09:00
BULLETIN 11 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Black Rock Mining wil 40-persent van die Please Call Me-skikking hê
# Die GOOD-party is teleurgesteld oor die uitstel van die Khampepe-kommissie
# En rugby: Rassie sê hulle het geleer om skeidsregters se beslissings te aanvaar
# Black Rock Mining, ‘n maatskappy van die Britse Maagde-eilande, eis 40-persent van Vodacom se multi-miljoen-rand skikking met die skepper van Please Call Me, Nkosana Makate. Vodacom en Makate het verlede week ʼn vertroulikheidsooreenkoms onderteken vir die skikking wat volgens berigte meer as 700-miljoen-rand beloop. Die geskil gaan oor ʼn memorandum wat Makate en die Suid-Afrikaanse sakepersoon, Christiaan Schoeman wat Black Rock Mining verteenwoordig, onderteken het. Hiervolgens sou die maatskappy alle regskoste betaal in ruil vir 40-persent van die uiteindelike skikkingsbedrag. Makate se prokureurs sê ʼn befondsingsooreenkoms tussen die twee partye is lank gelede herroep.
# Die GOOD-party het sy teleurstelling uitgespreek nadat die Khampepe-kommissie uitgestel is. Die kommissie moet bewerings ondersoek dat pogings aangewend is om ondersoeke en vervolging van Waarheid- en Versoeningskommissie-sake te keer. Besware teen die getuienisleier, advokaat Ishmael Semenya, het daartoe gelei dat die werksaamhede uitgestel is vir ʼn amptelike onttrekkingsaansoek. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herrron, sê die probleem is Semenya wat die Nasionale Vervolgingsgesag in 2005 raad gegee het oor ʼn vervolgingsbeleid:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, het die besluit van die nasionale minister van Vervoer, Barbara Creecy, verwelkom om die nasionale instelling van die Wet op Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe tot 1 Julie 2026 uit te stel. AARTO sou op 1 Desember in werking tree en is daarop gemik om verkeersoortredings uit die howe te verwyder en dit administratief te hanteer, in lyn met ‘n nuwe strafmaatreëlstelsel. Sileku sê hierdie bykomende tyd sal help om ‘n meer doeltreffende en gekoördineerde landwye toepassing te verseker:
# Die VSA het sanksies teen Sirië gedeeltelik opgeskort na die besoek van tussentydse president Ahmed al-Sharaa aan Washington. Dit was die eerste besoek aan die Withuis deur ‘n Siriese staatshoof sedert die land se onafhanklikheid in 1946. Die VSA het ‘n 180-dae-opskorting van sommige sanksies ingevolge die Caesar-wet aangekondig, wat Sirië se energiebedryf teiken en buitelandse beleggers afskrik om kontrakte vir die land se na-oorlogse heropbou te onderteken. Die Amerikaanse president Donald Trump het Al-Sharaa ‘n baie sterk leier genoem:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê hulle het geleer om skeidsregters se beslissings te aanvaar, al stem hulle nie altyd daarmee saam nie. Hy glo slot Lood de Jager se direkte rooi kaart aan die einde van die eerste helfte teen Frankryk moes ‘n 20-minuut rooi kaart gewees het. Erasmus is gedwing om rustyd moeilike besluite te neem, insluitend om kaptein Siya Kolisi in sy 100ste toets met slot Ruan Nortjé te vervang, en André Esterhuizen as hibriede senter en flank te gebruik. Die Bokke het steeds met 32-17 gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-873-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-144-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….