Nuus 13:00
BULLETIN 10 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Unite for Change sal in al agt metros aan volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing deelneem
# Blade Nzimande rig’n streng waarskuwing aan die SAKP oor wegbreking van die drieparty-alliansie
# En rugby: Die Springbokke vergroot hul voorsprong bo-aan die wêreldranglys
# Die koalisie-alliansie tussen RISE Mzansi, die GOOD-party en Build One South Africa, Unite for Change, sal in al agt metros op die stembrief wees in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing, met ‘n burgemeesterskandidaat in elk. Die alliansie het begin met kandidaataansoeke vir die verkiesing. ‘n Lid van Unite for Change se leierskapsraad, Brett Herron, sê daar sal later besluit word in watter plaaslike en distriksmunisipaliteite die alliansie sal meeding:
Die nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, Blade Nzimande, het intussen ‘n spesiale nasionale kongres versoek om verskeie strukturele en ideologiese uitdagings te bespreek voor volgende jaar se verkiesing. Die party het in Desember verlede jaar besluit om onafhanklik van die ANC aan die verkiesing deel te neem. Nzimande sê in ‘n skerp-bewoorde dokument sommige elemente binne die SAKP verwar taktiese onafhanklikheid met opportunistiese avontuurlustigheid. Hy beklemtoon die party se behoefte om op groot skaal in ideologiese opleiding te herbelê om sy ontledende voorsprong te versterk.
# Die familie van die burgerlike Jaap van der Merwe, wat in 1978 deur ANC-insypelaars vermoor is naby die grens met Botswana, het AfriForum amptelik versoek om antwoorde te vind oor moontlike politieke inmenging met die vervolging van ‘n geïdentifiseerde verdagte. Sy liggaam is nooit gevind nie. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê een van die verdagtes, wat destyds die skuilnaam John Msibi gebruik het, het nie by die Waarheids- en Versoeningskommissie om amnestie aansoek gedoen nie en leef steeds:
# Die brandweerdiens van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê die brand in die Cogmanskloofberge bo Montagu en Ashton bly aktief. Die brand, wat Donderdagmiddag in die veld bo Zolani begin het, het aanvanklik versprei na CapeNature-bestuurde grond op die bergpieke. Van daar het dit langs die rant en tot aan Montagu se kant van die berge versprei. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê brandbestrydingsoperasies is bemoeilik deur sterk, wisselende wind en aanhoudende hoë temperature:
# Rugby: Suid-Afrika bly bo-aan die wêreldranglys na Saterdag se oorwinning van 32-17 oor Frankryk in Parys. Die Springbokke se voorsprong oor Nieu-Seeland het tot 1,71 punte gestyg. Ierland en Engeland is steeds in die derde en vierde plekke na oorwinnings oor onderskeidelik Japan en Fidji, en Frankryk is steeds vyfde. Die top ses spanne sal na die Herfsnasiesreeks in groep een wees vir die loting vir 2027 se Wêreldbekertoernooi op 3 Desember, met die sewende tot 12de spanne in groep twee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-457-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-82-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….