Nuus 11:00
BULLETIN 10 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die G20 moet betekenisvol en dringend ongelykheid verminder
# Zuma se stigting sê die staat gebruik die regstelsel om die Zuma-familie te teister
# En sokker: Suid-Afrika is die eerste keer deur na die uitklopfase van die Onder 17-Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa sê as die G20 sy sending wil nakom om dringend wêreldwye ekonomiese en finansiële kwessies aan te pak, moet hy ongelykheid betekenisvol en dringend verminder. Die wêreld se rykste tien-persent is verantwoordelik vir meer as die helfte van die algehele wêreldwye inkomste terwyl een uit elke vier mense wêreldwyd matige of ernstige voedselonsekerheid ondervind. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die G20-leiersberaad gaan die eerste keer op ongelykheid fokus. Hy sê gelykheid is noodsaaklik vir ‘n bestendiger, voorspoediger en volhoubaarder wêreld.
# Die JG Zuma-stigting sê dis wreed en lafhartig om oudpresident Jacob Zuma deur sy kinders te vervolg. Duduzile Zuma-Sambudla se verhoor vir aanhitsing tot terrorisme en openbare geweld wat verband hou met die betogings in Julie 2021 begin vandag in die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof. Haar pa se korrupsiesaak sal volgende maand hervat word. Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê die stryd teen politieke vervolging is ‘n nasionale stryd om grondwetlike demokrasie teen manipulasie en selektiewe afdwinging te verdedig:
# Die DA in Gauteng daag die Gesondheidsdepartement uit om op te tree teen ‘n hospitaal-sekerheidsmaatskappy wat na bewering versuim het om voorsorgfondse wat van sy werkers ingevorder is, oor te betaal. Woordvoerder Jack Bloom sê Mafoko Security Patrols het verskeie kontrakte om Gautengse hospitale te bewaak, insluitend een van 58-miljoen-rand per jaar vir 206 wagte by die George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa. Bloom het in die wetgewer gevra of die departement strafregtelike klagtes teen Mafoko gaan lê:
Nuus uit die buiteland:
# Amerikaanse senatore het ‘n befondsingswetsontwerp goedgekeur om die regeringafsluiting van 40 dae te beëindig wat die langste in die land se geskiedenis is. Dit het presies die 60 stemme ontvang wat nodig is om dit in die Senaat deur te voer nadat byna al die Republikeine en agt Demokrate daarvoor gestem het. Die gewysigde pakket moet steeds in die Huis aanvaar en deur president Donald Trump onderteken word. Die Demokraat Maggie Hassan sê die Republikeine moet nou die Bekostigbare Sorg-subsidies verleng:
# Sokker: Suid-Afrika is die heel eerste keer deur na die uitklopfase van die Onder 17 FIFA-manswêreldbekertoernooi in Doha, Katar. Amajimbos het vir die laaste 32 gekwalifiseer ondanks hul nederlaag van 3-1 teen Italië. Hulle vier punte was genoeg om Katar en Bolivië verby te steek, wat gelykop gespeel het sonder doele, en tweede te eindig in Groep A. België, Japan, Senegal, Kroasië, Egipte, Venezuela, Switserland en die Republiek van Korea is ook deur na die uitklopfase.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-505-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-78-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….