Nuus 08:00
BULLETIN 10 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se ad hoc-komitee gaan vandag sy tussentydse verslag oorweeg
# Die Khampepe-kommissie gaan vandag met sy verhore begin
# En IDAC wil nie spekuleer oor sy hoof van ondersoeke se ontvoering nie
# Die parlementêre ad hoc-komitee oorweeg vandag sy tussentydse verslag oor die werk wat tot dusver afgehandel is. Die komitee ondersoek bewerings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, insluitend vermeende misdadige insypeling en politieke inmengery in die strafregstelsel. Die komitee het tot dusver nege getuies aangehoor, onder andere Mkhwanazi, die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola, minister van Polisie, Senzo Mchunu en die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson. Die komitee sal besluit hoe sy voorgestelde program verder sal verloop.
# Die Khampepe-kommissie sal na verwagting vandag sy openbare verhore by die Sci-Bono-ontdekkingsentrum in Johannesburg begin met openingsverklarings deur belanghebbende partye. Die kommissie, wat deur president Cyril Ramaphosa aangestel is, het opdrag om te bepaal of pogings aangewend is om die ondersoek en vervolging van misdade uit die apartheidsera te verhoed. ‘n Lid van die Stigting vir Menseregte, Zaid Kimmie sê 25 gesinne soek antwoorde:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie sê hy gaan nie bespiegel oor wat aanleiding gegee het tot sy ondersoek- en bedryfshoof, Matthews Sesoko, se ontvoering nie. Hy is Vrydag op pad huis toe ontvoer, aangerand en van sy elektroniese toestelle beroof. Sesoko se aanvallers het hom Saterdagoggend naby Rabie Ridge, oos van Midrand vrygelaat. Sesoko het die ondersoek hanteer wat in Junie tot die inhegtenisneming van die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en ses ander amptenare gelei het. Die direktoraat sê die polisie ondersoek die voorval.
# Die BBC se direkteur-generaal, Tim Davie, en uitvoerende hoof van nuus, Deborah Turness, het bedank na aanleiding van kommer oor onpartydigheid, insluitend oor hoe ‘n toespraak deur die Amerikaanse president Donald Trump in ‘n episode van Panorama geredigeer is. Die Telegraph het besonderhede gepubliseer van ‘n uitgelekte interne BBC-memo wat daarop dui dat die Panorama-program ‘n toespraak deur Trump misleidend geredigeer het om dit te laat lyk asof hy regstreeks geweld op Capitol Hill uitgelok het op 6 Januarie 2021. Trump het die bedankings verwelkom en gesê Davie en Turness is “baie oneerlike mense”.
# Motorsport: McLaren-renjaer Lando Norris het die Sao Paulo Grand Prix gewen en sy voorsprong in die bestuurderskampioenskap tot 24 punte bo spanmaat Oscar Piastri vergroot. Kimi Antonelli van Mercedes het tweede klaargemaak en Max Verstappen van Red Bull wat uit die kuipebaan weggespring het, derde. George Russell van Mercedes was vierde en Piastri vyfde, nadat hy gestraf is omdat hy ‘n botsing veroorsaak het. Norris beskryf dit as die perfekte naweek nadat hy Saterdag ook die snelwedren gewen het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-962-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-46-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….