Nuus 09:00
BULLETIN 8 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen en president Ramaphosa bespreek moontlike veranderinge aan die DA se kabinetsposte
# ‘n Afgetrede Ekurhuleni metropolisie-adjunkhoof waarsku by die Madlanga-kommissie dat blou ligte in privaat besit misdaad aanwakker
# En tennis: Sabalenka klop Anisimova en bespreek plek in WTA-eindstryd teen Rybakina
# Die presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya het bevestig president Cyril Ramaphosa en DA-leier John Steenhuisen was in gesprek oor moontlike veranderinge aan die DA se kabinetsposte. Volgens News24 vra Steenhuisen dat die minister van Omgewing, Bosbou en Visserye, Dion George, deur partywoordvoerder Willie Aucamp vervang word. Steenhuisen wil ook hê DA-LP Alex Abrahams moet as nuwe adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging aangestel word, in die plek van Andrew Whitfield wat vroeër vanjaar deur Ramaphosa afgedank is. Magwenya wou nie verder kommentaar lewer nie en sê ‘n aankondiging sal gemaak word wanneer die tyd ryp is.
# Die afgetrede adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Revo Spies, sê blou ligte in privaat hande is gevaarlik, want misdadigers kan hulle as polisie voordoen. Spies het voor die Madlanga-kommissie in Pretoria verwys na News24-berigte dat voertuie, wat met sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala verbind word, onwettig as EMPD-motors geregistreer is. Hy waarsku dat blou ligte die polisie én die publiek in gevaar stel en slegs deur wetstoepassing gebruik moet word:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê onlangse aanvalle by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap kan moontlik verband hou met ‘n aanslag om voortgesette anti-korrupsiepogings by die instelling te saboteer. Die aanvalle het geboue van miljoene-rand vernietig, insluitend ‘n nuwe studentekliniek en laboratoriums. Meer as 50 organisasies en nagenoeg 100 individue het gesamentlik ‘n beroep gedoen vir die verdediging van die historiese universiteit en ‘n volledige ondersoek, dialoog en ondersteuning vir voortgesette anti-korrupsiepogings.
# Die Stad Kaapstad het sy eerste hoof- hittebeampte aangestel met die stad wat stygende temperature en meer gereelde buitengewone hittevoorvalle in die gesig staar. Die stad se bestuurder vir veerkragtigheid en klimaatsverandering, Albert Ferreira, sal bewusmakingsveldtogte lei en hitteverwante ingrypings begelei, veral in kwesbare gemeenskappe. Ferreira het inwoners aangespoor om te midde van toenemende klimaatsimpakte, gehidreer te bly, piek-hitte-tye te vermy en om te sien na diegene wat die meeste blootgestel is:
# Rugby: Die Junior Springbok-kaptein Riley Norton sal die Suid-Afrikaanse onder-19 Akademie-span vanmiddag teen die gashere in Châteauroux, Frankryk, lei. Die besoekers se beginspan sluit ook die Junior Bokke Oliver Reid, Siphosethu Mnebelele en Vusi Moyo in. Die twee spanne het ooreengekom dat hul groepe uit 26 spelers sal bestaan om meer spelers speeltyd te gee. Die hoofafrigter van die Junior Bokke, Kevin Foote verwag ‘n spesiale wedstryd voor die veelbesproke kragmeting tussen die twee lande se senior spanne vanaand by die Stade de France in Parys.
# En tennis: Die wêreldnommer-een Aryna Sabalenka het Amanda Anisimova gister in ‘n hewige stryd met 6-3, 3-6, 6-3 geklop. Sy kom nou vir die titel in die WTA-eindstryd teen Elena Rybakina te staan. Albei spelers mik na hul eerste Billie Jean King-trofee en is tot dusver onoorwonne in die toernooi, met die 2022-finalis Sabalenka wat ‘n 8-5-voorsprong het in wedstryde teen Rybakina. Dit sluit in ‘n oorwinning twee jaar gelede in die eindstryd van die Australiese Ope.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….