Nuus 06:00
BULLETIN 19 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Angie Motshekga is beïndruk met die 2023-matriekslaagsyfer van 82,9-persent
# In reaksie op die uitslae, sê die minister die basiese onderwysstelsel begin die gewenste stabiliteit bereik
# En, Oppenheimer lei vanjaar se Bafta-toekennings met 13 benoemings
# Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, sê die prestasie van die Klas van 2023 is die hoogste nog sedert die aanvang van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in 2008. Die matriekklas het ‘n 82,9-persent slaagsyfer behaal, wat ‘n verbetering van 2,8-persent verteenwoordig. Die Vrystaat het weereens die beste gevaar met ‘n slaagsyfer van 89-persent, gevolg deur KwaZulu-Natal met 86,4-persent, en Gauteng met 85,4-persent. Motshekga het die uitslae gisteraand bekendgemaak en sê die matrieks het buitengewoon goed presteer, ten spyte van die uitdagings:
Die minister sê daar is geen twyfel dat die basiese onderwysstelsel die verlangde stabiliteit begin bereik het nie. Motshekga sê ingrypings oor onderrig- en leerverliese moet geprioritiseer word, en ondersteunings- en intervensieprogramme moet regoor die onderwysstelsel ingestel word:
# Desember se styging van 1,9-persent in BankservAfrica se Ekonomiese Transaksies-aanwysers dui op ‘n effense ekonomiese hupstoot, maar kenners bly versigtig oor 2024. Ondanks matige inflasie duur kommer voort, met ‘n moontlike tegniese resessie in 2023 se vierde kwartaal. Ekonome waarsku hoewel herstel te wagte is, is beduidende groei vanjaar onwaarskynlik sonder noemenswaardige strukturele hervormings. Hulle sê aanwysers soos die Aankopebestuurders-aanwyser en dalende voertuigverkope dui op gedempte ekonomiese bedrywighede, wat die behoefte versterk aan hervormings.
# Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, sê die nuutverkose onder-burgemeester, Nasiphi Moya, sal help om die koalisie-regering bestendig te maak. Sy was voorheen die gewese DA-burgemeester, Stevens Mokgalapa, se personeelhoof. Moya word ondersoek vir beweerde finansiële ongerymdhede ten opsigte van ‘n besoek aan Saoedi-Arabaië. Sy is egter onbestrede verkies met steun van die DA-geleide koalisie. Brink glo Moya sal ‘n beduidende leierskapsrol speel:
# Rugby: Die Stormers en die Bulle speel hierdie naweek hulle laaste groepwedstryde in die Kampioenebeker. Die Stormers pak Stade Francais in Parys en die Bulle is gashere vir nog ‘n Franse span, Bordeaux Bègles, in Pretoria. Albei spanne benodig net twee ligapunte om deur te dring na die volgende ronde. In die Uitdaagbeker kan die Haaie en die Cheetahs nog albei deurdring na die volgende ronde, terwyl die Leeus reeds hulle plek verseker het. Die Cheetahs speel môre in Frankryk teen Oyonnax, terwyl die Haaie Sondag in Newport, Wallis, met die Dragons kragte meet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-125-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-23-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-92-sent per vat.
# En om mee af te sluit, Oppenheimer is benoem vir 13 BAFTA-rolprenttoekennings, insluitend Beste Rolprent, Hoofakteur vir Cillian Murphy en Beste Regisseur vir Christopher Nolan. Die rolprent het reeds agt Critics Choice-toekennings en vyf Golden Globes gewen. Poor Things het elf benoemings ontvang, insluitend Beste Aktrise vir Emma Stone. Killers of the Flower Moon en The Zone of Interest het albei nege benoemings. Ondanks die feit dat Barbie verlede jaar die meeste by die loket verdien het, het sy net vyf benoemings ontvang, net soveel soos Saltburn. Die BAFTA’s word op die 18de van volgende maand in Londen aangebied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….