Nuus 18:00
BULLETIN 7 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kom in Rome aan vir ‘n besoek aan die Vatikaan
# Die Oppenheimer-familie vra die regering om beperkings op entrepreneurs te verlig
# En, die veroordeelde moordenaar Zaheera Boomgaard kry lewenslange vonnis
# President Cyril Ramaphosa het in Rome aangekom vir ‘n werksbesoek aan die Vatikaan wat gemik is op die versterking van samewerking ten opsigte van humanitêre hulp, klimaats-geregtigheid, noodreaksie en die bevordering van vrede. Ramaphosa sal pous Leo ontmoet in Suid-Afrika se eerste hoëvlak-vergadering met die nuwe pous. Die president se woordvoerder Vincent Magwenya sê die besoek onderstreep die gedeelde waardes van Ubuntu en die pous se visie vir ‘n empatiese, inklusiewe globale gemeenskap:
# Die Oppenheimer-familie het die regering gevra om beperkings op entrepreneurs te verlig. Die stigter van die mynmaatskappye Anglo American en De Beers sê rompslomp, swak groei en hoë koste bedreig klein sake-ondernemings wat 91-persent van Suid-Afrika se formele sektor uitmaak. Woordvoerder Jonathan Oppenheimer sê menige klein ondernemings sal hulle deure moet sluit onder die huidige inflasie-druk. Hy herhaal die Wêreldbank se oproep vir die uitwissing van burokratiese hindernisse wat ekonomiese groei onderdruk.
# Die veroordeelde moordenaar Zaheera Boomgaard is ‘n lewenslange vonnis opgelê in die Hooggeregshof in Pretoria. Sy is vroeër skuldig bevind aan die moorde op die Britse burger Jamnandas Nathvani en haar vriendin, Lynette Mustapha, naby Vereeniging in 2020. Boomgaard is onskuldig bevind aan ‘n derde moord waarby John Naisby betrokke is. Hy word reeds sedert 2012 vermis. Regter John Holland-Muter het met vonnis-oplegging verwys na die erns van die misdade en die behoefte aan geregtigheid en aanspreeklikheid.
# Motorsport: McLaren se Australiese renjaer, Oscar Piastri, glo steeds hy kan die Formule Een-bestuurders-kampioenskap wen. Hy het ses maande lank voorgeloop voor sy Britse spanmaat, Lando Norris, hom verlede maand verbygesteek het toe hy die Mexikaanse Grand Prix gewen het. Piastri is nou een punt agter, met Red Bull se verdedigende kampioen, die Nederlander Max Verstappen, net 35 punte agter. Dit beteken hierdie naweek se Brasiliaanse Grand Prix is uiters belangrik. Piastri hou vol hy kan steeds wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-175-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-998-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-85-sent per vat.
# En laastens, die Stad Kaapstad gaan van vandag tot Sondag temperature van laag tot meer as 30 grade Celsius beleef. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing van hittegolfomstandighede uitgereik vir die Weskus, Kaapstad en die westelike deel van die Kaapse Wynland-distrik. Die woordvoerder van Rampbestuur, Sonica Lategan, sê inwoners moet die veiligheidsprotokol nakom om die moontlikheid om hitteverwante probleme te ondervind:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….