Nuus 17:00
BULLETIN 7 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oppenheimer-familie vra die regering om beperkings op entrepreneurs te verlig
# Die politieke ontleder, Dirk Kotzé, sê die beslaglegging op Senzo Mchunu se toestelle dui op vinniger ondersoeke
# En, ‘n onderhoof van ‘n skool in Daveyton is geskiet
# Die Oppenheimer-familie het die regering gevra om beperkings op entrepreneurs te verlig. Die stigter van die mynmaatskappye Anglo American en De Beers sê rompslomp, swak groei en hoë koste bedreig klein sake-ondernemings wat 91-persent van Suid-Afrika se formele sektor uitmaak. Woordvoerder Jonathan Oppenheimer sê menige klein ondernemings sal hulle deure moet sluit onder die huidige inflasie-druk. Hy herhaal die Wêreldbank se oproep vir die uitwissing van burokratiese hindernisse wat ekonomiese groei onderdruk.
# Die politieke ontleder, Dirk Kotzé, sê die beslaglegging op die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se elektroniese toestelle dui daarop dat ondersoekprosesse begin versnel. Die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde het vanoggend vyf toestelle by Mchunu se huis in Pretoria afgeneem te midde van ‘n ondersoek na beweerde politieke inmenging en korrupsie in die regstelsel. Kotzé het aan Newzroom Afrika gesê sodra die ondersoek afgehandel is, sal dit duidelik word wat gevind is:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê ‘n ondersoek is aan die gang nadat die onderhoof van die Dinoto Technical Secondary School in Daveyton, Ekurhuleni, op pad skool toe geskiet is. Die gewonde onderwyser is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas vir behandeling. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, het die aanval veroordeel en gevra dat die skuldiges aan die man gebring word:
# Die uitvoerende hoof van die Padvragvereniging, Gavin Kelly, sê vervoerkoste begin afneem na die onlangse brandstofprysverlagings. Dieselpryse het vroeër die week met 21-sent per liter gedaal en petrol met 39-sent danksy die sterker rand. Brandstofpryse is wel steeds 21,4-persent hoër as verlede jaar, maar Kelly sê die laer koste om vragmotors te vul en logistiek sal verbruikers na verwagting bevoordeel. Hy beklemtoon volgehoue prysdalings sal ‘n positiewe uitwerking hê op inflasie en ekonomiese groei.
# Krieket: Die Dolphins het ‘n kontrak gesluit met die kolwer Leus du Plooy as ‘n oorsese speler, vir die res van Krieket Suid-Afrika se T20-uitdaagreeks. Die 30-jarige het vir die Knights, die Titans, Suid-Westelike Distrikte en Boland in Suid-Afrika gespeel voor hy sy loopbaan in Engeland voorgesit het. Hy het sedertdien Derbyshire en Middlesex in die Graafskapkampioenskap verteenwoordig. Du Plooy sluit aan by die Proteas-snelbouler Anrich Nortjé, wat verlede maand gekontrakteer is. Die Dolphins is tans derde plek op die huidige punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-154-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-999-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….