Nuus 15:00
BULLETIN 7 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bevestiging Malusi Gigaba is nie in hegtenis geneem nie, maar die Transnet-ondersoek is ter sprake
# Bek-en-klouseer word bevestig op ‘n plaas naby Gouda in die Wes-Kaap
# En Franse owerhede beslis ‘n man mag ‘n goudvonds van 14-miljoen-rand uit sy tuin hou
# Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het bevestig die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, is nie in hegtenis geneem nie. Hy is vanoggend na ‘n polisiestasie in Pretoria ontbied oor beweerde onreëlmatighede in Transnet se verkrygingsprosesse tydens sy ampstermyn van 2010 tot 2014. Die presiese aanklagte is steeds onduidelik, maar Gigaba sê hy sal ten volle saamwerk en sy gewete is skoon. Die woordvoerder van die direktoraat, Henry Mamothame, sê die ondersoeke duur voort:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die stelselmatige en uitgerekte verwaarlosing van diensvoorwaardes, vergoeding en die status van laer howe se voorsittende amptenare. Wes-Kaapse landdroste het verlede week betoog en eis erkenning as deel van ‘n enkele regbank, aansienlike salarishervorming en beter werkstoestande. Claude Naiker van die vakbond sê landdroste moet beskerm word, want hulle hanteer sowat 95-persent van Suid-Afrika se regs-werkslading:
# Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het ‘n geval van bek-en-klouseer op ‘n plaas naby Gouda bevestig. Die plaas en twee ander in Velddrift en Bredasdorp is onder kwarantyn geplaas, terwyl alle plase binne ‘n omtrek van tien kilometer ondersoek word. Veeartsenykundige spanne ondersoek ‘n vervoermaatskappy wat met die uitbreking verbind word. Staatsveearts Annelie Cloete het boere versoek om tot verdere kennisgewing geen gesplete hoef-diere te vervoer nie:
# Gholf: Rory McIlroy van Noord-Ierland sê hy het ‘n persoonlike verskoning van die uitvoerende hoof van die PGA van Amerika, Derek Sprague, ontvang oor die swak gedrag teenoor Europese Ryderbeker-spelers en hul gesinne in September in New York. Die span, en veral MlIlroy en sy vrou, Erica, is oor die drie dae deur die eenogige tuisskare geteiken. Hy sê hy het ‘n pragtige e-posboodskap van Sprague ontvang wat hy baie waardeer. Die Amerikaanse kaptein, Keegan Bradley, het geweier om die tuisondersteuners te veroordeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-138-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-996-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte, ‘n man wat goudstawe en -muntstukke ter waarde van ongeveer 14-miljoen-rand ontdek het terwyl hy ‘n gat vir ‘n swembad in sy tuin in Frankryk gegrawe het, het gehoor hy kan dit hou. Die naamlose man het die goud in Mei by sy huis in ‘n dorpie buite Lyon gevind en dit by die Streeksdirektoraat vir Kultuursake aangemeld. ‘n Woordvoerder van die plaaslike owerheid sê amptenare by die direktoraat het beslis hy mag dit hou, aangesien dit nie ‘n argeologiese skat is nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….